2007 |
Die amptelike bekendstelling van die EWA Supplement vind op 21 Januarie plaas met die Nederlandse medewerkers en weldoeners as eregaste. |
2006 |
Die WAT word op 25 Maart 2006 80 jaar oud en dit word op 15 September gevier met 'n uitvoering deur die Stellenbosch Libertaskoor in die Konservatorium van die Universiteit van Stellenbosch. |
2005 |
Deel XII van die WAT, wat die letters P en Q bevat, verskyn. Die leergebonde uitgawe is in Julie beskikbaar en die standaarduitgawe in Augustus. |
2004 |
Dr. W.F. Botha word aangestel as die sesde Hoofredakteur.
|
2003 |
Die Elektroniese WAT word op 28 Maart voltooi en word op 29 Maart by die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees vrygestel. |
2002 |
Die eerste fase van die Etimologiewoordeboek van Afrikaans word op 8 Maart aan die Nederlandse weldoeners prof. P.J.G. van Sterkenburg, prof. A.M.F.J. Moerdijk en dr. J. Kist van die Instituut voor Nederlandse Lexicologie en drs. B. Jongsma van die uitgewersmaatskappy Sdu oorhandig. Hulle was vir die werwing van die fondse vir die samestelling van hierdie woordeboek verantwoordelik. |
2001 |
Die eerste direksie van die Buro van die WAT as 'n Artikel 21-maatskappy word aangewys: prof. A.H. van Wyk, Voorsitter en verteenwoordiger van die Universiteit van Stellenbosch; dr. D.J. van Schalkwyk, Uitvoerende Direkteur en Hoofredakteur van die WAT; prof. W.A.M. Carstens, Provinsiale Taalkomitee; prof. R.H. Gouws, AFRILEX-verteenwoordiger; me. W.H. Lategan, Bemarkingskundige; dr. M. Pienaar, Provinsiale Taalkomitee; dr. J.F. Smith, Finansiële kundige; mnr. R.A. Stevens, Regskundige. |
2000 |
Deel XI van die WAT word op 29 Mei aan die Minister van Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie, dr. Ben Ngubane, en aan mnr. M.B. Kumalo, Voorsitter van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad, oorhandig. Die ONOMA-rekenaarprogram wat deur Lexilogik, 'n Sweedse maatskappy, in samewerking met die Buro ontwikkel is, word in gebruik geneem. Die Buro word op 8 November as 'n Artikel 21-maatskappy geregistreer. Direksies van die Nasionale Leksikografie-eenhede word opgelei. Die Hoofredakteur besoek Noorweë en Swede op uitnodiging en begelei die strategiese beplanning van die Sweedse Woordeboek in Lund. Prof. D. Worren van die Norsk Ordbok (Noorse Woordeboek) besoek die Buro vir voorligting in die bestuur van 'n leksikografiese projek. |
1999 |
Van 1 tot 5 Maart verhuis die Buro vanaf die Letteregebou na Banghoekweg 115. Op 15 Maart verskyn die eerste gedrukte jaarverslag van die Buro onder die titel Buro van die WAT: 1997 - 1998. Die WAT TRUST word gestig. Die Buro begin met 'n Sweedse maatskappy saamwerk met die oog op die ontwikkeling van 'n nuwe rekenaarprogram vir die BuroPersoneel van die Buro lewer insette by verskeie vergaderings wat deur die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad gereël is met die oog op die vestiging van 'n Nasionale Leksikografie-eenheid vir elk van die amptelike tale van Suid-Afrika. Die eerste leksikografiestudente uit Gaboen meld aan vir opleiding. 'n Samewerkingsooreenkoms tussen die Groupe de Recherches en Langues et Cultures Orales (GRELACO) van die Omar Bongo Universiteit, Libreville, Gaboen, en die Buro word op 6 Desember onderteken. |
1998 |
Opleiding word verskaf aan dosente van verskeie Suid-Afrikaanse universiteite en technikons en van die Universiteit van Namibië, asook aan leksikograwe van die Xhosa Woordeboekeenheid. Studente van die Universiteit van Leiden, die Universiteit van Amsterdam en die Vrije Universiteit van Amsterdam meld ook vir opleiding aan by die Buro. Personeel van die Buro lewer insette by verskeie vergaderings wat deur die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad gereël is met die oog op die vestiging van 'n Nasionale Leksikografie-eenheid vir elk van die amptelike tale van Suid-AfrikaIn November besoek die Hoofredakteur leksikografiese projekte in Denemarke en Swede en op 1 Desember woon hy in Leiden, Nederland die feestelikhede ter viering van die voltooiing van die WNT |
1997 |
Opleiding word verskaf aan dosente van Vista Universiteit, 'n lid van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad en 'n leksikograaf van die Zoeloe Woordeboekeenheid. Die Buro bied ook opleiding in Libreville, Gaboen, aan vir leksikograwe uit verskeie Afrikalande. Mnr. Edmund Weiner, redakteur van die Oxford English Dictionary, besoek die Buro op 29 September. Dr. J. Kruijsen van die Woordenboek van de Limburgse Dialecten in Nijmegen, Nederland, en dr. J. van Keymeulen van die Woordenboek van de Vlaamse Dialekten in Gent, België, besoek die Buro vanaf 18 tot 31 Maart. Die Hoofredakteur van die WAT bring 'n teenbesoek aan hierdie projekte gedurende September. |
1996 |
'n Tuisblad vir die Buro van die WAT word op die Internet geskep. Die Hoofredakteur van die WAT, dr. D.J. van Schalkwyk, word verkies tot die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad. Daar word begin met die insleutel van materiaal in 'n bibliografiese rekenaardatabasis. Deel X van die WAT, wat die letter M bevat, verskyn op 15 November. Lexikos word die mondstuk van die African Association for Lexicography (AFRILEX). Leksikograwe uit KwaZulu-Natal, die Noordelike Provinsie, Angola, Tanzanië, Zambië en Gaboen woon die opleidingskursus van die Buro by Dr. A.M.F.J. Moerdijk, Hoofredakteur van die Woordenboek der Nederlandsche Taal (WNT), besoek die Buro van 3 tot 20 September en bied 'n kursus in etimologie aan. Die Buro bied in samewerking met die Staatstaaldiens die seminaar Leksikografie as 'n finansiële bate in 'n meertalige Suid-Afrika aan. Die werk aan die etimologiese woordeboek van Afrikaans neem 'n aanvang. |
1995 |
Die LEXI-XDP-program word vir die Xhosa Dictionary Project ontwikkel met die oog op rekenaarmatige strukturering van manuskrip en veelsydige onttrekking van inligting. Die leksikograaf as eksegeet verskyn as deel van die AFRILEX-reeks. Lexikos word deur die Departement van Onderwys tot 'n geakkrediteerde blad verklaar. Prof. P.G.J. van Sterkenburg, Direkteur van die Instituut voor Nederlandse Lexicologie (INL) en dr. J. Kist, penningmeester van die INL besoek die Buro op 2 Augustus. 'n Databasisprogram word ontwikkel vir die insleutel van taaladvies. Daar word begin om alle taaladviesmateriaal in dié rekenaardatabasis in te voer. 'n Beleid vir die hantering van beledigende en sensitiewe leksikale items in die WAT word goedgekeur. |
1994 |
'n Internasionale kongres oor beledigende en sensitiewe leksikale items in die WAT word vanaf 8 tot 10 Februarie gehou. Deel IX van die WAT wat die letter L bevat, word aan die einde van Maart gepubliseer. |
1993 |
Deel IX van die WAT word deur die redaksionele afdeling op rekenaar voltooi en elektronies deur die reprografiese afdeling geset. Die Hoofredakteur besoek leksikografiese projekte in Amerika. Die strategiese beplanning van al die Buro se prestasieareas is voltooi, aksieplanne is in werking gestel en deelnemende doelwitbestuur word deurlopend toegepas. Die sukses van die Buro se beplannings‑ en rekenariseringsaksie blyk o.a. uit die feit dat die manuskrip van WAT deel IX in net onder drie jaar voltooi is (teenoor gemiddeld sewe jaar vir vorige dele), dat die Buro intussen verskeie ander publikasies op die mark gebring het en dat hy daarby etlike nuwe verantwoordelikhede soos bemarking en setwerk bygekry het. |
1992 |
Woordkeusegids: 'n Kerntesourus van Afrikaans, 'n satellietpublikasie van die Buro, verskyn op 24 September. Dit word ook volledig deur die Buro geset. Eerste deelname van redaksielede aan 'n internasionale leksikografiese kongres. W.F. Botha en A.E. Cloete lewer referate by EURALEX '92 in Tampere, Finland. Dit word gevolg deur gereelde internasionale optredes deur redaksielede. |
1991 |
Dr. D.J. van Schalkwyk word aangewys as vyfde Hoofredakteur na die aftrede van mnr. D.C. Hauptfleisch op 31 Julie. Lexikos 1, 'n leksikografiese vakpublikasie van die Buro in die AFRILEX-reeks, verskyn op 30 Julie. Dit word volledig deur die Buro geset. Deel VIII (KOS-KYW-), wat strek tot die einde van K, verskyn op 18 November. Dr. Van Schalkwyk besoek leksikografiese projekte in Nederland, Duitsland en Engeland. |
1990 |
Daar word begin om alle nuwe taalmateriaal m.b.v. die LEXI-program van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing in die rekenaardatabasis in te voer. Vier van die eerste gepubliseerde dele van die WAT word m.b.v. 'n aftaster en optiesekarakterherkenningsprogram in die rekenaardatabasis ingelees met die oog op outomatiese onttrekking van data. 'n Nuwe redaksionele stelsel word ontwerp en sedert Julie 1990 word alle manuskrip daarvolgens opgestel. Alle nuwe manuskrip word rekenaarmatig gestruktureer vir veelsydige outomatiese onttrekking van inligting. |
1989 |
Die Buro begin met 'n proses van strategiese beplanning met die oogmerk om die WAT so vinnig en doeltreffend moontlik tot by Z te voltooi. |
1987 |
Die Buro begin met sy rekenariseringsprogram met die oog op versnelling. |
1986 |
Die Wysigingswet op die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, 1986 (Wet No. 9, 1986) word aangeneem. Die Beheerraad word tot ses lede vergroot. Die Administrateur (voortaan die vaste Voorsitter) en die Hoofredakteur is ex officio-lede, en 4 lede word deur die Minister van Nasionale Opvoeding aangestel. Een lid verteenwoordig die SAAWK. |
1984 |
Deel VII (KOM-KOR-) verskyn. |
1983 |
Die materiaalversameling bereik die 3 miljoen-kerf. |
1981 |
Mnr. D.C. Hauptfleisch word aangestel as die vierde Hoofredakteur. |
1977 |
Deel VI (KLA-KOL-), met publikasiedatum 1976, verskyn in Maart. |
1973 |
Die Wet op die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, 1973 (Wet No. 50, 1973) word deur die Parlement aangeneem. Die woordeboekonderneming word op vaste grondslag op Stellenbosch gevestig. Die Buro van die WAT staan voortaan onder beheer van die Beheerraad van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, wat uit vyf lede bestaan en waarin die Staat, die US en die S.A. Akademie verteenwoordig is. |
1970 |
Die tweemiljoenste materiaaloptekening word ontvang |
1968 |
Deel V (J-KJ) verskyn. |
1963 |
Die WAT ontvang die miljoenste materiaaloptekening. |
1962 |
Dr. F.J. Snijman aangestel as die derde Hoofredakteur. |
1961 |
Deel IV (H-I) verskyn. |
1958 |
Deel III (G) verskyn. |
1955 |
Verskyning van Deel II (D-F). |
1951 |
7 Mei: Verskyning van Deel I (A-C). Groot openbare belangstelling en oorwegend gunstige ontvangs. Redaksie uitgebrei tot tien lede. |
1947 |
Op 1 Januarie word dr. P.C. Schoonees as die tweede Hoofredakteur aangestel. |
1945 |
Prof. Smith tree weens swak gesondheid af.Die Woordeboekkomitee word vervang deur 'n Raad van Beheer met verteenwoordiging van die Regering, die US en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. |
1937 |
'n Woordeboekkomitee word aangestel as beheerliggaam. |
1930 |
Die Woordeboekkantoor verskuif na Stellenbosch. |
1929 |
Die Universiteit van Stellenbosch (US) neem die verantwoordelikheid vir die Woordeboek van die Nasionale Pers oor. |
1926 |
Die samewerking tussen prof. J.J. Smith, die Nasionale Pers en die Universiteit van Stellenbosch word deur formele kontrakte bekragtig. Die werk aan die Woordeboek begin in Keeromstraat, Kaapstad. |
1925 |
'n Gesamentlike Komitee van beide Huise van die Parlement beveel die opstel van 'n "volledige en gesaghebbende woordeboek" met staatsteun aan. |
1920 |
Prof. J.J. Smith bepleit die opstel van 'n vertalende woordeboek in Die Burger en die versameling van die Afrikaanse woordeskat vir 'n verklarende eentalige Afrikaanse woordeboek. |