Op Vrydag 28 September 2001 het die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, of die WAT soos dit kortweg genoem word, sy 75ste bestaansjaar gevier. Hierdie omvattende projek is op 4 Januarie 1926 in Keeromstraat in Kaapstad deur die eerste Hoofredakteur, prof. J.J. Smith, en sy assistent, mnr. Nicolaas van Blerk, begin. Tans word die WAT in Banghoekweg 115 in Stellenbosch gehuisves.
Die tema van die WAT-fees was:Die variëteite van Afrikaans.Sprekers van die volgende variëteite van Afrikaans het aan die fees deelgeneem:Sandvelds, Swartlands, Bolands, Boesmanlands, Kaaps, Noord-Namakwalands, Suidwestelike Namakwalands, Rehobothafrikaans, Griekwa-Afrikaans, Maleierafrikaans en Gariepafrikaans. Dit was waarskynlik die eerste keer in die geskiedenis dat al hierdie variëteite op dieselfde verhoog gehoor is. Uitsprake soos seuwe vir sewe en huus vir huis is gehoor. Hierdie wisselinge wat reeds in die 16de eeu in Nederlands voorgekom het, is deur Van Riebeeck-hulle Kaap toe gebring en word nog steeds in sommige van die variëteite van Afrikaans gehoor.
Die WAT is nie slegs ‘n woordeboek vir sg. Standaardafrikaans nie;dit sluit materiaal in uit al die variëteite van Afrikaans. Dit is dus ‘n woordeboek waartoe elke gebruiker van Afrikaans kan bydra en wat deur hulle benut kan word.
Bekende kunstenaars en skrywers soos Trix Pienaar, Elias Nel, Randall Wicomb en Peter Snyders het aan die program deelgeneem. Koos Kombuis het ‘n bydrae oor sy oupa, dr. P.C. Schoonees tweede hoofredakteur van die WAT, tot die fees gelewer. Die radiopersoonlikhede Anton Prinsloo en Daniel Hugo het ook opgetree.
Die Kaapse Klopse en ‘n Maleierkoor het gesorg dat die fees vrolik verloop, terwyl studente van die Departement Drama van die Universiteit van Stellenbosch onder leiding van Abduragman Adams vir Skrêmbuild-Eggs vir Nasiebrou gesorg het en onder leiding van Marie Kruger het hulle gewroeg met die woord.
Onder die gehoor was verskeie interessante gaste, onder andere mnr. John McNab, Kaptein van die Rehoboth Basters, asook mnre. Hansie Waterboer en Adam Kok, Kapteins van die Griekwas.
Dit was vir die deelnemers sowel as vir die gehoor 'n buitengewone ervaring om die ryk variasie in Afrikaanse te beleef.