p afk. (musiek) piano (It.), sag.
1p. afk., pp. pagina: Ook uitstaande is Johann de Lange se gedig “Krokodil” (vir Ina Rousseau) (p. 21 tot 22), terwyl Hennie Aucamp se “Skyfieles” (p. 1 tot 2) bewys lewer van sy poëtiese vaardigheid (Burg., 18 Jun. 1990, 10). “Brief vir Wilhelm” (pp. 68 – 69) behels twee verse in 'n briefvorm aan die ontslape digter Wilhelm Knobel (Beeld, 4 Jun. 1990, 8).
2p. afk., ps. (krieket) paaltjie: Die volledige uitslae (v.d. kriekettoernooi vir skole) is: Afdeling 1: Strand (39/3) k Firgrove (38/3) met 2 ps. ... Strand (41/4) k De Kuilen (40/4) met 1 p. (Burg., 24 Jan. 1994, 7).
3p. afk. (musiek) poco (It.), effens.
4p. afk. pater (Lat.), vader.
5p. afk. per.
1P (ook kl. p) P's; P'tjie.
1 Sestiende letter of skryfteken v.d. Afr. alfabet en v.d. meeste verwante moderne alfabette, wat 'n stemlose bilabiale eksplosief voorstel: Die p in “psigologie” word nie uitgespreek nie. Die twee p's in “dapper” word normaalweg as een klank in die uitspraak gehoor. ≈ Hy (Van Riebeeck) skryf enkele kere lemoenboomties. Die skryftradisie het hom ... weerhou van 'n vorm te skryf met p: lemoenboompties, maar die ontstaan van hemp is ... die voorbeeld waarvolgens ... boompie kon ontstaan het (H.J.J.M. v.d. Merwe: Afrikaans, 1968, 53).
2 a Weergawe v.d. letter P of p geskryf, gedruk, getik, geteken of op 'n ander manier voorgestel:. 'n P met 'n rooi dwarsstreep op 'n verkeersteken dui aan dat 'n mens nie daar mag parkeer nie.
b Drukletter, stempel of ander instrument vir die reproduksie v.d. letter P of p:. Hy vervang die p van die ou brandyster met 'n nuwe een. Die P op my toetsbord haak gedurig vas.
3 a Gesamentlike woorde of name in 'n woordeboek, alfabetiese lys, adresboek, kaartstelsel, of dergelike wat met 'n P of p begin:. P en Q word eersdaags as Deel XII van die WAT gepubliseer. Liasseer alle korrespondensie van die personeel onder p.
b Woord of naam wat met P of p begin:. Maak seker dat al die P's in die woordelys korrek gespel is.
4 Nommer sestien in posisie, gehalte of rang in 'n reeks wat alfabeties met A of a begin:. Almal het die korrekte antwoord by p verstrek.
5 (slegs hl.) Iets wat die vorm v.d. letter P het.
2P simbool (in chemiese formules) fosfor:. Fosfor (P) kom in die natuur slegs gebonde voor in minerale en in dierlike bene en uitwerpsels.
3P afk. (op padtekens) parkering.
1p.a. afk. per annum (Lat.), per jaar.
2p.a. afk. per adres: Lede van die 1964-inname moet skryf aan kapt. R.H.L. Harrison, p.a. Die Hidrograaf, SA Vloot, Privaatsak X1, Tokai, 7966 (Burg., 7 Mei 1994, 12). Stuur die poskaart met jou naam, adres en telefoonnommer aan Wiskunde-wedstryd, p.a. Jong Burger, Posbus 692, Kaapstad, 8000 (Burg., 16 Aug. 1993, 4).
pa s.nw., pa's of soms paens; pa'tjie.
1 (as aanspreek- of eienaamvorm gew. met 'n hl. Pa) Ook, gemeensaam, pappa, pappie, soms papa, selde pape en, vertederend, paps, papsie. Man wat 'n kind of kinders het of ouer v.d. manlike geslag; ook, so 'n man of ouer as liefdevolle versorger of persoon wat so 'n funksie vervul; sin. ouballie (geselstaal; soms enigsins oneerbiedig; gew. as verwysing), oubok (geselstaal; verouderend; ongewoon; soms enigsins oneerbiedig; gew. as verwysing), oukêrel (geselstaal; soms enigsins oneerbiedig; gew. as verwysing), ouman (soms enigsins oneerbiedig; slegs as verwysing), outoppie (geselstaal; soms enigsins oneerbiedig; gew. as verwysing), paai (verouderd; dikw. as aanspreekvorm), pai (verouderd; dikw. as aanspreekvorm), vader (meer formeel), vadie (vertederend; dikw. as aanspreekvorm; minder gebruiklik); teenoor ma: Hulle het ... geëet en Sampie het die hele liewe aand van sy pa, ou Jafta Vink, en die ander manne van die Hantam gesels (Mikro in Jb. Afr. Skrywerskring, 1936, 104). Toe sy die sak beetpak, word sy ... deur die hond gebyt ... Daarop het sy huil-huil na haar Pa geloop en gesê: “Pa, Pa se sak byt” (N.Brandw., Mei 1931, 82). Spel vir pa Trap der Jeugd, Izak. T-r-a-p, trappa; d-e-r, derpa; j-e-u-g-d, jeugdpa; Trap der Jeugd, pa. A ja nee, daardie dae se pa's het 'n mens nie sommer gejy en gejou nie! (Burg., 20 Jun. 1963, 6). Die meeste van sy familie, maens en paens en broers en susters, almal, was naderhand onder die langbome in (A.P. Brink in Wynboer, Aug. 1982, 64).
• Selde ook ww.: Dit het vir my gevoel asof ek ... op 'n ... hoër sosiale vlak beweeg as die kinders wat hul pa's net ... ge-pa het (B. Stander in Sarie, 18 Jan. 1967, 56).
2 Ook, gemeensaam, pappa en pappie. Manlike dier wat 'n kleintjie of kleintjies het of ouer wat 'n manlike dier is; ook, so 'n manlike dier of ouer as liefdevolle versorger of dier wat so 'n funksie vervul; sin. vaar (meestal t.o.v. diereteelt), vader (meer formeel; minder gebruiklik); teenoor ma: Die pa van die vulletjie ... was 'n blouskimmel-hings ... 'n mooi perd met Arabierse bloed (A.C. Cilliers: Lewensavontuur 2, 1972, 80). 'n Bobbejaantjie (het) ... 'n pootjie in sy ma se bek ... Naasaan sit die pa wat gulsig ... 'n vrug verslind (Brander in N.Brandw., Mei 1931, 117).
UITDR.
IDIOMATIES
bruilof: iemand was op sy (haar) pa se bruilof (dikw. kwetsend) Iem. se ma was swanger met hom (haar) toe sy m.d. pa getrou het.
dogter: jou pa se dogter (kind, seun) wees (geselstaal) Die tipiese geaardheid van jou pa hê.
glasmaker: is (was) jou pa 'n glasmaker? of soms jou pa is nie 'n glasmaker nie (skertsend) Jy belemmer my uitsig, of jy voorkom dat ek ordentlik kan sien wat aangaan: “Was jou pa 'n glasmaker?” (vir iemand wat jou uitsig belemmer) is nie deur ons skoolseuns uitgedink nie. Hy kom van oorkant af (Burg., 24 Mrt. 1986, 13).
kind: jou pa se kind (dogter, seun) wees (geselstaal) Die tipiese geaardheid van jou pa hê.
pa: iemand se pa kon gewees het Veel ouer as iem. wees: Ek weet nie hoekom sy met dié man getrou het nie. Hy kon haar pa gewees het! ≈ “Hoe lank dink jy is die Oumeneer al op hierdie plek (die universiteit)?” ... “Ses jaar ... Ek kon jou pa gewees het.” Eerstejaar (beïndruk): “Jissie. Hoeveel grade het Meneer al?” (A. v. Straten: Gaatjie, 1966, 129).
pa: wie se pa is jy? (geselstaal; soms as teregwysing deur 'n ouer persoon teenoor 'n snipperige kind) Hoekom is jy so voorbarig of ongemanierd?. (Opgeteken i.d. Paarl en Swellendam).
seun: jou pa se seun (dogter, kind) wees (geselstaal) Die tipiese geaardheid van jou pa hê.
staan: pa (soms vader en selde ma) staan vir
1 a Instaan (INSTAAN 1) vir, of die verantwoordelikheid aanvaar vir: Ek as afrigter (moet) pa staan vir die span se vertoning en ek sal nie my verantwoordelikheid in dié verband met enige verskonings probeer ontduik nie (Volksbl., 24 Apr. 2000, 12). Ek wil weet hoekom ons voor al die mense ... verneder en my gesin getraumatiseer is. Iemand moet pa staan vir dié optrede (Rapport, 27 Des. 1997, E). Die skoolgebou en basiese toerusting word deur die staat voorsien, wat ook vir die instandhouding daarvan pa staan (Huisg., 23 Jul. 1987, 17).
b Die egtheid of betroubaarheid van iets waarborg of instaan (INSTAAN 2 en 3) vir: Ek kan daarvoor pa staan dat dit sy eie werk is, want ek was die heeltyd by toe hy dit gedoen het. ≈ Of die verhaal waar is, sou ek nie voor kon pa staan nie, maar ek kan dit goed glo van daardie streek se mense (Beeld, 19 Jul. 1996, Kalender, 4).
2 Vaderskap vir iem. aanvaar of die rol of funksie van 'n pa vervul teenoor: Mans ... kan pa staan vir kinders tot in hul tagtig- en negentigjare (J. v. Elfen in Beeld, 9 Febr. 1995, 10). 'n Ingenieur eis ... skadevergoeding ... van die man ... vir wie se kind hy onbewustelik moes pa staan ... omdat hy eers in 1998 uitgevind het ... (die man) is die biologiese pa van sy tweejarige dogtertjie (Volksbl., 8 Sept. 1999, 3). By die Polisie se hondeskool ... het hy vir baie jong manne pa gestaan ... Oom C.v.R. was altyd daar met begrip, raad of sommer net 'n vriendelike woordjie (Sarie, 9 Apr. 1986, 55).
pA afk. (voorafgegaan deur 'n syfer) pikoampère.
Pa afk. (voorafgegaan deur 'n syfer) (fisika) pascal.
1PA afk. Provinsiale Administrasie: Die Provinsiale Administrasie (PA) het ... ná herhaaldelike waarskuwings begin om die raamwerke van plakkershutte op sy grond by Klapmuts af te breek (Burg., 27 Okt. 1994, 15).
2PA afk., PA's. persoonlike assistent.
paadjie s.nw., paadjies.
1 Vkw. van pad (veral PAD 1 a i).
2 a Looppad (LOOPPAD 1 a): Hy het by 'n wit hekkie ingedraai en met skuifelende voetstappe 'n nou paadjie, afgebaken met witgekalkte klippe, gevolg (E. Serfontein: Los-hande, 1931, 38). Stap- en fietsroetes loop deur die ontwikkeling wat ... maklike toegang tot die handelsnodus bied. Dié paadjies sal ook na ander geriewe lei soos kerke, winkels en skole (Burg., 30 Nov. 1998, Sakeb., 14). Brûe sal die eilande met mekaar verbind. Oral sal paadjies wees en bome en struike en grondbedekkings sal op groot skaal aangeplant word (Rapport, 25 Apr. 1999, 20).
b Voetpad: Die ... voetpad is onderworpe aan ernstige erosie ... Die doeltreffendste beheer is die gebruik van paaltrappies wat dwarsoor die paadjie gelê word om te voorkom dat water en grond wegloop (Custos, Des. 1993, 30). Hulle plas met die modderpad langs, tot waar 'n paadjie afdraai, veldin (J.M. Gilfillan: Pouoogmot, 1997, 144). Hy (sien) haar met die voetpaadjie aangestap kom ... 'n Asemwolkie staan voor haar gesig en haar voete trap ongelyk in die paadjie (E. v. Rooyen: Botala, 1993, 122). Die kinders ... het ... doelloos in die stowwerige paadjies tussen die ... hutte rondgesit nadat die kleuterskool ... afgebreek is (Beeld, 9 Jan. 1999, 4).
3 Gangetjie tussen rye sitplekke, rakke, of dergelike, waarlangs gew. geloop word: Sal ek ooit my troudag vergeet? ... Ek loop ewe spoggerig aan my pa se arm in die paadjie af tot langs Eric, waar hy ... voor die kansel staan (E.K.M. Dido: Monica, 1996, 86). Volgens die organiseerders (v.d. operavertoning) mag niemand tydens die opvoering rook nie, ... niemand mag in die paadjies staan of van sitplek verander ... nie (Beeld, 29 Jan. 1999, 3). Die skoonmaakstelsel vir die verwydering van mis uit die lêhokke (van lêhenne) vereis gewoonlik 'n paadjie aan elke kant van 'n battery hokke (Boerd. S.A., Apr. 1953, 131).
Vgl. MIDDELPAADJIE 3.
4 (t.o.v. haarstilering) Skeiding wat bo-op of a.d. kant van die kop gevorm word wanneer hare na teenoorgestelde of verskillende kante gekam word; sin. haarpaadjie (minder gebruiklik), koppaadjie (ongewoon): Die hare van die jong vrou het 'n penreguit paadjie in die middel (J.A. Coetzee: Stompie, 1938, 25). Ek sien die mooi glans ... in (haar hare), die smal paadjie wat so reguit oor haar mooi hoof loop (F.A. Venter: Drosters, 1952, 156). As julle sy hoed afhaal, sal julle mos kan sien waffer kant hy sy paadjie gedra het (F. Deist: Tweebeendiere, 1993, 51).
Vgl. MIDDELPAADJIE 2.
UITDR.
IDIOMATIES
gepis: iemand het in die paadjie gepis (meer dikw. gesit) (plat; minder gebruiklik) Iem. het 'n karkatjie (KARKATJIE 1 a).
gesit: iemand het in die paadjie gesit (soms, plat, gepis) Iem. het 'n karkatjie (KARKATJIE 1 a).
1paai ww., het gepaai; byv. en byw. paaiende, paaiend, gepaaide, gepaai.
1 a Troos, sus, kalmeer of tot bedaring probeer bring, gew. met mooi woorde, vleitaal of deur te pleit: “Dit is werklik niks besonders nie, rêrig!” paai Harm, wat vrees dat sy dalk aanstoot kon geneem het (Dawie: Gruisholte6, s.j., 54). Mary-Anne was verbitterd teenoor haar vader en ek moes dikwels mooipraat en paai (F. de Villiers in Landbw., 19 Apr. 1966, 76). Die kinders is heeltemal verskrik. Een van hulle het aan die huil geraak en moes gepaai word (Burg., 20 Aug. 1962, 1). Paaiende selfpraat mag jou sensitiwiteit streel en kalmeer, maar dit is nie die manier om teen jouself mee te ding en 'n wenner te word nie (Beeld, 22 Nov. 1994, Kalender, 8). 'n Kind (gaan) aan die huil en kerm na sy ma. Die verpleegster kom, ek hoor haar paaiend fluister ..., en dan bedaar die gehuil geleidelik (L. v.d. Westhuijzen, vert.: Een Staan By, 1961, 25).
• Selde as nabep.: Soms het die stemme geklaag en was daar byna iets wiegeliedagtigs aan die sang, iets paaiends, soet dog gevaarlik en verraderlik (A.P. Brink in Standp., Aug. 1986, 5).
• Ook selfst.: Dit is soms net ... die paai wat ... die pasiënte moed ... gee, deursettingsvermoë ... gee, die volhardingskrag ... gee wat hulle nodig het om die stryd te wen (C.L. Leipoldt: Moederplig, 1980, 39).
Vgl. PAMPELIELIE.
b (dikw. saam met aan) (verouderd) Streel of vryf, dikw. om iem. te liefkoos of te laat kalmeer: Hannie paai aan haar sokkie se hak dat dit goed om haar stopskulp sit (M.E.R.: Waagstuk, 1948, 142). Mnr. Kneg kom hom ... tegemoet, sonder om 'n woord te praat, paai hy hom aan die wange, eers met die een hand, toe met die ander (J.H.H. de Waal: Werke II, 1939, 292).
2 Tevrede of gerus probeer stel, die guns probeer wen of vrede probeer bewaar, dikw. deur toe te gee, tegemoet te kom of beloftes te maak: “Ek wil nie gaan nie Mamma,” pleit Lily ... “Ek sal kyk dat ons vir jou 'n mooi rokkie uitsoek,” paai Erina (S.C. Brink in Landbw., 13 Aug. 1968, 88). Ten spyte van al die takt en diplomasie waarmee Augustus die senatore gepaai het, kon hy tog nie die feit vir hulle verberg dat hulle geen werklike mag gehad het nie (P.J. Nienaber: Beeld, 1966, 353). Paaiende uitsprake van versoeningsgerigtes ... het 'n tydelike demper op die hoopvolle verwagtinge geplaas (Burg., 30 Des. 1996, 6). Hy ... tik haar paaiend op die arm toe sy wil protesteer en sê gerusstellend: “Okay, Girlie” (H.S. v. Blerk: Bantoms, 1949, 131).
• Ook selfst.: Dit het paai gekos om die knaap daar weg te kry. Oom Bennie moes belowe om ... nooit onder die boklammers te slag nie (M.S. Taljaard: Wind, 1970, 59).
Vgl. KOUDLEI 3, PAMPELIELIE.
2paai s.nw. (verouderd; dikw. as aanspreekvorm) Ook pai. (mntl. <Port. pãe of pai of <Mal.-Port. pay, “vader”)
1 (dikw. saam met ou)
a (neerhalend) Onverfynde of versukkelde manspersoon, gew. ouerig.
b (rassisties) Bruin of swart man, gew. ouerig.
Sien Toeligting, 6.
2 Pa (PA 1); teenoor maai.
paaibeleid s.nw. (veral as politieke strategie teenoor 'n potensieel vyandiggesinde nasie, groep of persoon) Beleid (BELEID 3) wat gevolg word om versoening te bewerkstellig, die vrede te bewaar, te vergoed vir 'n onreg, 'n vyandige gevoel te versag, guns te wen, of dergelike, en gew. gekenmerk deur ongewone of oordrewe toegewings: Ons merk 'n paai-beleid in die arm onderwyspogings wat kant nog wal raak ten einde almal ter wille te wees (M.J. Swart in TGW, Mrt. 1966, 99). Dit is heel tiperend van uiters linksgesindes en saamgeflanste regerings in sommige lande ... om met 'n paaibeleid sake in hul guns te wil plooi (Oost., 14 Des. 1973, 16). Die ... universiteitshoofde, vreesbevange oor studente-geweld, (het) meesal 'n paaibeleid gevolg en voor die verregaande eise van studenteleiers geswig (Burg., 15 Okt. 1986, 12).
paaiboelie s.nw., paaiboelies; paaiboelietjie.
1 Iem. of iets wat dikw. op oordrewe wyse aangewend word as afskrikmiddel, om vrees in te boesem of te dien as bron van kommer of teistering: Ons goeie Generaal is gebruik as die paaiboelie waarmee Unioniste en flouhartiges onder ons bang gemaak is (Oberholster – V. Schoor: Steyn, s.j., 175). Die werkgewer behoort nouer kontak met sy werknemers te hê, sodat hy nie 'n veraf paaiboelie is nie, maar 'n toeganklike persoon (Publico, Jun. 1990, 13). Diervet is nie die paaiboelie wat dit gemaak word nie. Die langslewende mense in die wêreld ... leef feitlik uitsluitend van suiwelprodukte wat ryk is aan diervette (Suidw., 3 Apr. 1974, 2). Die begrip letterkunde het 'n paaiboelie geword wat mense laat ophou lees (Beeld, 20 Apr. 1992, Kalender, 5).
Vgl. BULLEBAK 1, SPOOK.
2 Iem. of iets met wie of waarmee kinders bang gemaak of afgeskrik word, veral 'n denkbeeldige wese of skrikgestalte; sin. boeman (verouderd), kinderskrik (ongewoon), kinderverskrikker (minder gebruiklik), paaiboelieman (ongewoon): Aantjie Soomers, die man wat in vroueklere rondgeloop het en vir die jeug algemeen as paaiboelie diens gedoen het ... Dit is hierdie soort streeksgeskiedenis wat vir ons historiese kennis waardevol is (F.G.E. Nilant in Hist., Sept. 1965, 207). Paaiboelies was by die Afrikaanse volksmens ... volop bekend en het gedien om ... die grieselige vrees en bangerigheid te verwek wat ... noodsaaklik geag is om 'n stout kind tot stipte onderdanigheid te bekeer (P.W. Grobbelaar in P.W. Grobbelaar, e.a.: Boerewysheid, 1977, 68).
Vgl. GEDROG 1.
paaiboelieman s.nw., paaiboeliemanne; paaiboeliemannetjie. (ongewoon) Paaiboelie (PAAIBOELIE 2): Kindjie moet maar slape gaan, / Anders kom Paaiboelieman: / ... vir kindjie vang (S.J. du Toit: Volkspoësie, 1924, 3).
paaie s.nw. Mv. van pad.
paaiement s.nw., paaiemente.
1 Enigeen van 'n aantal vasgestelde bedrae wat op vaste tye betaal moet word totdat die skuld of verpligting wat aangegaan is, volledig vereffen is: 'n Jaarlikse, kwartaallikse, maandelikse paaiement. Paaiemente oorslaan. ≈ Die huurkoopooreenkoms moet sowel die kontantprys as die huurkoopprys van die artikel, die bedrag van elke paaiement en wanneer sodanige paaiemente betaalbaar is, duidelik meld (Boerd. S.A., Jan. 1972, 51). As die koop van die grond ... deurgaan, is die huurder verplig om die koopsom in 80 halfjaarlikse paaiemente terug te betaal met 5% rente daarop (A.W.O. Bock: Kapitaalbehoeftes, 1928, 30). Die stoof se paaiemente moet betaal word ... En daar's die yskas ... En die melkgeld (H. Grové: Halte, 1962, 16).
Vgl. PREMIE 1.
2 (minder gebruiklik) Hoeveelheid of bydrae gesien as deel van 'n groter geheel of mikpunt wat oor 'n korter of langer periode aangewend of verwesenlik gaan word: In die vroeë lente ... dien ons gewoonlik die eerste paaiement kunsmis toe (Sagtevr., Jan. 1966, 13). Dink maar aan wat gedoen kan word met veldherwinning ... waar ingevoerde onkruid die wêreld ... oor duisende morge ingeneem het ... die mees dramatiese paaiement van so 'n aksie kan die aanplant van bome wees (Oost., 5 Febr. 1973, 6).
UITDR.
A GESPESIALISEERD
koop: op paaiemente koop Koop op voorwaarde of m.d. verstandhouding dat afbetaling d.m.v. paaiemente (PAAIEMENT 1) sal geskied: Die prys van 'n artikel wat op paaiemente gekoop word, (is) dikwels hoër as die kontantprys, wat dié krediettransaksie ... duurder maak (Burg., 25 Nov. 1992, 7).
Vgl. HUURKOOP.
B IDIOMATIES
paaiemente: in paaiemente Nie alles op een slag nie, of oor 'n bep. tydsverloop: In paaiemente toedien. ≈ Die koerante moes daardie môre in paaiemente by die stasie afgelewer word ..., maar daar was geen onderbreking in die verskyning van die daaglikse Burger nie (Huisg., 5 Des. 1952, 51). Omdat ek 'n gretige en geïnteresseerde luisteraar was, het ek haar lewensverhaal in paaiemente te hore gekom (L. Stopforth in Huisg., 18 Jan. 1974, 59).
paaiement'betaling s.nw.
paaiementfinansiering s.nw. Finansiering van 'n paaiement, of finansiering wat paaiementsgewys terugbetaal moet word: In die mark vir paaiementfinansiering (bruikhuur en huurkoop) is E. ... die voorloper met 'n markaandeel van 29,7% (Beeld, 23 Mei 1995, Sakeb., 2). Die sukses van Finansbank se filiaal ... met veral huisverbande en paaiementfinansiering spruit ... uit die klem op individuele behoeftes (Tegniek, 4 Mrt. 1988, 47).
paaiementlening s.nw., paaiementlenings. Ook soms paaiementslening. Langtermynlening wat toegestaan word op voorwaarde dat die leningsbedrag paaiementsgewys afbetaal word: Paaiementlenings (v.d. Landbank aan landboukoöperasies) word vir 'n tydperk van tien jaar toegestaan vir die aankoop van vaste eiendom (Jb. S.A., 1975, 374). Die beheer oor (Australiese) handelsbanke se uitleenkoerse omvat ... net maksimum koerse op oortrokke rekenings, m.a.w. ... paaiementlenings aan persone spring alle beheer vry (Verslag Fisk. en Monet. Beleid III, 1970, 166).
paaiementpremie s.nw., paaiementpremies. Premie (PREMIE 1) wat vir die duur van 'n versekeringstermyn paaiementsgewys betaal word: Die premies op sekere soorte polisse kan by wyse van 'n eenmalige groot betaling, aan die begin van die polistermyn betaal word in plaas van kleiner paaiementpremies gedurende die volle termyn (Marx – Dekker: Handelsterme, 1978, 73).
paaiementsgewys bw. Ook soms paaiementsgewyse.
1 Deur of by wyse van paaiemente (PAAIEMENT 1 en 2): Die betaling van voorlopige belasting is daarop gemik om belastingpligtiges in staat te stel om hul belastingverpligtinge deurlopend en paaiementsgewys uit hul belasbare inkomste ... na te kom (Rapport, 1 Febr. 1998, 6).
2 Langsamerhand of met moeite: Wanneer hy ... met 'n sugkreuntjie ... en so paaiementsgewys op sy veldstoeltjie gaan sit, straal daar uit sy wese 'n mengsel van uitputting en opwinding (T. Kotzé: Kelkiewyn, 1987, 26).
paaiementsgewyse bw. (minder gebruiklik) Sien PAAIEMENTSGEWYS 1 en 2: In die geval van skuld wat paaiementsgewyse oor 'n tydperk afgelos word, is die middel van hierdie tydperk as die finale vervaldatum beskou (D.H. Steyn: S.A. Staatsfinansies, 1961, 200). Latjieboud klim paaiementsgewyse uit die melkbos en tel sy kierie op (T. Kotzé: Latjieboud, 1972, 26).
paaiementslening s.nw., paaiementslenings. (minder gebruiklik) Sien PAAIEMENTLENING: Paaiementslenings ... is in hoofsaak langtermynlenings ter finansiering van die oprigting van vaste installasies, soos produkteskure (Verslag Koöp. Aangeleenth., 1967, 89). Paaiementslenings word normaalweg toegestaan vir tydperke wat van 10 tot 20 jaar wissel (Boere-Ens., s.j., 1093).
paaienet s.nw. (ongewoon) Padnetwerk: Die snelweg sou die ... woonbuurt ... en die ... nywerheidsgebied met Pretoria verbind ... asook met die voorgestelde paaienet van die (PWV-)kompleks (Panorama, Jun. 1982, 40). Daar word ... beoog om die paaienet verder te verbeter en die ... hoofpad te verleng sodat dit by die N7 aansluit en 'n regstreekse roete van die Weskus tot by die lughawe verkry word (Burg., 29 Febr. 2000, 8).
paaienetwerk s.nw. Padnetwerk: Die Hluhluwe-wildtuin ... het 'n besonder goeie paaienetwerk wat die besoeker in staat stel om talle wild van naby te sien (Landbw., 7 Mei 1976, 27). Die beperkings wat die groot metropolitaanse owerhede op nuwe voorstedelike ontwikkelings plaas, is grootliks daarop gemik om verkeersdrukte op die paaienetwerk te verminder (Volksbl., 27 Mrt. 2000, 2).
paaier s.nw., paaiers. Iem. of iets wat paai (1PAAI 1 en 2): Die ... paaiers ... moet ... besef die aarde is nie plat met afgronde waarin politieke ontdekkingsreisigers ... neerstort nie (Beeld, 13 Mei 1994, 8). Die Christelike hoop is nie 'n paaier ... of serp oor die oë nie — dit is mededeelsaamheid tussen mede-gelowiges (Burg., 14 Sept. 1990, 8).
paaiery s.nw. Handeling of proses van herhaaldelik te paai (1PAAI 1 en 2): Paaiery gaan nie help nie. As daar botsings moet wees, laat daar botsings wees, want dit gaan in elk geval gebeur (Beeld, 23 Jul. 1992, 7). Die praatjies van “hervestiging” van hospitale is net paaiery om die sluiting van hospitale te verdoesel (Burg., 23 Apr. 1998, 10).
paaiestelsel s.nw. (minder gebruiklik) Padnetwerk: Die ingenieurs van Rome en ... Karthago ... was ... die eerste wat aan 'n paaiestelsel vir die hele land gedink het (A. v. Oordt in Afr. Kinderens. I, 1947, 124). Daar behoort tussen Pinetown en Durban doeltreffende, vinnige massavervoer te wees, soos dié van Kaapstad se paaiestelsel (Vad., 3 Apr. 1969, 13).
paaikees s.nw., paaikese. (ongewoon) Ook paikees. Baiekiesbossie.
paaimiddel s.nw., paaimiddels; paaimiddeltjie. Middel (2MIDDEL 2 b) waarmee iem. of iets gepaai (1PAAI 1 a en 2) word: Wat beteken ... haar klere, haar kar, haar huis? Dit is veronderstel om haar gelukkig te hou, maar dis alles net paaimiddels! (P. de Bruyn: Maan, 1973, 41). Die redes vir die verlenging (v.d. perlemoenseisoen) is 'n blote paaimiddel ... duikers sukkel om hul kwota te vul omdat daar nie meer genoeg perlemoen is nie (Burg., 2 Aug. 1996, 11).
Vgl. TROOSMIDDEL.
paaiwoord s.nw., paaiwoorde; paaiwoordjie (gew. i.d. mv.). Woord waarmee iem. of iets gepaai (1PAAI 1 en 2) word: Politici se paaiwoorde sal geen taal red wat ingeperk word tot huisarres en die bladsye van boeke nie (Burg., 7 Jun. 1997, 10). Frikkie gaan op die kar sit en probeer om hulle (die onrustige perde) met sagte paaiwoordjies gerus te stel (G.J. Joubert: Steiltes, 1938, 196).
Vgl. TROOSWOORD.
paal
I s.nw. pale. (met vkw. in bet. 1)
1 vkw. paaltjie. Langwerpige, gew. silindriese stuk hout, beton, metaal, of dergelike materiaal, wat gew. i.d. grond geplant of ingedryf word en wat op verskeie maniere aangewend word, o.a. as stut of heining, of om iets aan te bevestig: Pale anker, plant. ≈ 'n Trein oorvol soldate het op vertrek gestaan ... Teen 'n verlate paal het 'n enkele paartjie nog gestaan en afskeid neem (A.P. Brink: Ambassadeur, 1963, 77). 'n Vrou ... is doodgeskok toe die bus waarin sy gery het, teen 'n losstaande elektriese paal gebots het (Burg., 23 Des. 1998, 2). Om 'n doeltreffende hoenderhuis te bou, moet daar baie dinge in aanmerking geneem word ... Baie mense plant net 'n paar pale in, sit 'n sinkdak op en maak die kante met sak toe (F.J. Furstenberg: Hoenderboerdery, 1950, 45). In die middel van die mark is 'n paar vierkante voet deur paaltjies afgebaken met 'n stewige tou daartussen (P.C. Schoonees, vert.: Eiko, 1948, 52).
Vgl. SPAR.
2 (sport)
a (veral t.o.v. sommige balspele) Regoppaal of doelpaal: Miskien moes ek ... (die) bal 'n bietjie regopper gestel het, dan het hy dalk meer geswaai en nie teen die paal beland nie (Rapport, 26 Jul. 1997, 25). Die ... doelwagter ... is ... totaal geklop ... maar die Fransman het die bal teen die doelhok se een paal geskop (Rapport, 12 Okt. 1997, 19).
Vgl. PALE 2.
b (atletiek) Lang, betr. ligte en dun, buigsame en veerkragtige silindriese voorwerp wat vir paalspring gebruik word; sin. paalspringpaal (minder gebruiklik): Die Sweed het goeie nuus gehad vir ... paalspringers. Hy het vertel van 'n nuwe en ligter paal wat ontwikkel is en reeds deeglik beproef is (Beeld, 18 Des. 1998, 14). Dit was wonderlik om E. se vordering te sien in die paalspring ... Ek onthou goed hoe huiwerig sy in Italië was om met haar nuwe groen paal te spring (Volksbl., 14 Mrt. 1998, 12). Deelnemers mag hulle eie pale gebruik. Hierdie pale mag wel verbindsels om hê, maar geen verdere ondersteuning vir die hande nie (B. Coetzee: Atleet, 1946, 97).
Vgl. POLSSTOK.
3 (heraldiek) Breë, loodregte streep, gevorm deur twee lyne wat vertikaal oor die middel van 'n wapenskild verloop: As die (wapen)skild deur ... lyne verdeel word, (vorm) twee horisontale lyne ... 'n dwarsbalk en twee vertikale lyne 'n paal, dit wil sê as die buitestukke dieselfde kleur het (C. Pama in J.A. Heese, e.a.: Families, 1975, 72).
4 Blomsteel van 'n plant v.d. genus Agave, veral die sisalplant: Op 'n sisalplaas wat redelik goed bestuur word, kan die tydstip waarop die pale gevorm word, wissel van 7 tot 12 jaar (Boerd. S.A., Apr. 1965, 51).
• Ook ww.: Die ouderdom waarop 'n sisalplant paal, hang af van die behandeling wat dit ontvang en die toestande waaronder dit groei (Boerd. S.A., Apr. 1965, 51).
UITDR.
IDIOMATIES
aanraak: iemand of iets nie met 'n paal aanraak nie of nie met 'n paal aan iemand of iets raak nie Absoluut niks met iem. of iets te doen wil hê nie, of iem. of iets verfoei.
haal: die paal haal (selde maak) In jou doel slaag, of die mikpunt bereik: Hoe hoër hy vorder (teen die muur uit), hoe moeër word sy vingers, en later is hy seker hy gaan nie die paal haal nie (C. Barnard: Oudeur2, 1984, 50). Om die wedstryd te wen, het ... vir ons 'n saak van eer geword; buig of bars, die paal moet ons haal (C.J. Labuschagne: Liggaamstelsels, 1949, 45).
paal: op die paal wees
1 (geselstaal; enigsins plat) In 'n swanger toestand wees, gew. buite-egtelik: Alethea het dit gehad. Sy's op die paal; haar jas is in die wiel! ... En almal weet dit en kyk na haar onderlyf met sy skande (H. Grové: Winterreis, 1971, 109).
2 (minder gebruiklik) In 'n slegte of defekte toestand wees.
perk: paal en perk ... (ongewoon) Onteenseglik, of sonder vrees vir teenspraak: Wat hou die volgende dertig (jaar) nie alles vir hom in nie? Stellig goeie dinge, want hy het in die eerste dertig paal en perk bewys daarvan gelewer (Huisg., 31 Jan. 1964, 16). In een Europese land is paal en perk vasgestel dat tussen vier en vyf miljoen mense hulle in onwettige huweliksverhoudings bevind (Sarie, 14 Febr. 1968, 76).
perk: paal en perk (soms perk en paal) stel (aan) 'n Beperking stel op of einde maak aan, of die grense bepaal, beperk of beëindig: Metodes en planne moet beraam (word) om paal en perk te probeer stel aan 'n sedelike en morele verval, wat soos 'n meulsteen om die nek van ons maatskappy hang (Vad., 23 Mrt. 1963, 4). Baie sektes het ontstaan uit die beoefening van die persoonlike oordeel. Om aan hierdie versplintering van die Kerk paal en perk te stel, het die Hervormers noodgedwonge leerstellings neergelê (H.A. Prozesky: Opvoedk.2, s.j., 20). Ek is ... dankbaar dat ons nog nie so ver gegaan het om ... uitetery paal en perk te stel nie, omdat dit vir my een van die ... manifestasies van ons beskaafdheid geword het (Wynboer, Jun. 1974, 15).
raak: nie met 'n paal aan iemand of iets raak nie of iemand of iets nie met 'n paal aanraak nie Absoluut niks met iem. of iets te doen wil hê nie, of iem. of iets verfoei: Die gemiddelde Suid-Afrikaner (wil) eenvoudig nie met 'n paal aan aandele ... raak nie (Burg., 10 Aug. 1987, 4). “Ek raak nie met 'n ... paal aan dié goed (kontaklense) nie,” sê een ... optometris. “Ek speel nie met my pasiënte se oë nie” (Huisg., 28 Aug. 1986, 36).
sit: iemand op die paal sit (geselstaal; enigsins plat) Iem. swanger laat word, gew. buite-egtelik: “Ek het g'n vrou nie!” ... “Is,” Skree Ryshil, “want jy't my op die paal gesit. Jy't vrou, en jy't kind ... loop skrywe dit neer ... dat hulle kan sien ... jy't 'n verlede!” (E. Kotze: Silt, 1986, 91). Hy (moes) jare later op 'n dag ... vasstel ... dat sy dogter wat vroeg moes trou gelyk het of sy gelukkig was met die man wat haar op die paal gesit het (W. Stockenström: Abjater, 1991, 123).
water: soos 'n paal bo water staan Sonder enige twyfel wees: Een ding staan soos 'n paal bo water: Adriaan sal die saak baie taktvol met Petrus Beyers moet bespreek of hy jaag hom nog van die werf af (Mikro: Anna, 1950, 63). Een feit staan soos 'n paal bo water. Daar sal baie noue samewerking tussen die skool en die huis moet wees om ons leerlinge te motiveer tot selfdissipline en die handhawing van 'n gesonde balans (Unie, Mrt. 1976, 344).
II ww., het gepaal; byv. en byw. -, -, gepaalde, gepaal(d). (verouderend; veral t.o.v. riviervaartuie) Aandryf deur met 'n paal (PAAL I 1) op die bodem te druk: In vlak water kan bote, ligters en ander klein vaartuie voortgedryf word met pale wat teen die grond gedruk word; hierdie metode staan bekend as 'n “skuit te paal” (Seemanshandb. I, s.j., 220).
paal- aanvangskomponent van selfst. komposita
Wat van pale gebou of gemaak is, bv. paalhuis, paalkruis; paal'brug, paal'heining, paal'kerk, paal'leer, paal'skutting, paal'woning.
paalboor s.nw., paalbore.
1 Handboor (HANDBOOR 1) vir die boor van groterige gate; sin. awegaar (ongewoon).
2 Groot boor, gew. op 'n voertuig gemonteer, vir die boor van vlak gate in verdigte grond, veral om grondmonsters te verkry, of vir die plant van pale; sin. awegaar (ongewoon): Verskeie toetsgate (vir die aanlê van 'n swembad), gemaak met behulp van 'n ... paalboor ... sal van aansienlike waarde wees vir die bepaling van grondtoestande (Boere-Ens., s.j., 1036). In die eerste winter na plant word twee gate van 38 cm wyd en 90 cm diep ongeveer 75 cm vanaf elke boom se stam gemaak met 'n paalboor agter 'n trekker gemonteer (Sagtevr., Jun. 1976, 231).
paaldans s.nw., paaldanse. Dans (DANS I 1), gew. as deel van 'n ritueel of feestelike seremonie, wat rondom 'n paal uitgevoer word: Swart ... (mense) in Angola dra ... 'n masker as hulle hul paaldanse uitvoer (Vad., 10 Jan. 1977, 7 — byskr.).
paalgooi
I s.nw. Vermaaklikheidsitem waarby deelnemers meeding om 'n paal, ong. 3 m lank en 10 cm dik, die verste te gooi: In die paalgooi ... het 'n student ... sy makkers met 'n bastergelukskoot van vyf meter getroef (Panorama, Jul. 1973, 25). Groot pret wag op vakansiegangers ... Die sterk manne kan kom spiere bult in nommers soos die koringsakresies en paalgooi (Burg., 9 Des. 1998, 12).
II ww., het paalgegooi. Paalgooi (PAALGOOI I) beoefen, of daaraan deelneem: 'n Student ... wys hier hoe daar ... paalgegooi moet word. Die gespierde kêrels het vinnig die Skotse kuns aangeleer waar die paal nie agtertoe nie, maar wel ver vorentoe moet grondvat (Vad., 19 Sept. 1964, bylae, 4 — byskr.).
paalhek s.nw., paalhekke; paalhekkie. Hek (HEK 1) bestaande uit 'n paal wat dwars oor 'n toegangspad gemonteer is en wat opgelig word om deurgang te verleen: Die Afdeling Parke en Ontspanning het 'n paalhek opgerig om toeskouers van die roeiregattas te verhinder om voor die museumhek te parkeer (Jv. Africana-Museum, 1984 – 85, 15). Vieruur sluit die hekke ... Die paalhek moes ons self oplig. Half verwese het ons in die verlate ... plek rondgestap (Beeld, 16 Jun. 1994, bylae, 12).
Vgl. DWARSBOOM I.
paalhuis s.nw., paalhuise; paalhuisie.
1 Huis (HUIS I 1) wat van pale gebou is, of huis wat op pale gebou is, dikw. in bos- of moerasagtige gebiede, of in vlak water; sin. paalwoning (minder gebruiklik): 'n Paalhuis kan betreklik vinnig opgerig word. ≈ Paalhuise word vereenselwig met die ... tydperk toe die seevlak oor die hele Holland skerp gestyg en dit grootliks in 'n moeraswêreld omskep het (Burg., 1 Mrt. 1997, Woonb., 2).
2 (verouderd) Hartbeeshuis: Gewone paalhuise (is) van riet en latte opgerig, goed met klei bepleister en van grasdakke voorsien (Potgieter – Theunissen: Potgieter, s.j., 203). Die broeders het ... voor die ope deur van hul paalhuisie drie matte vasgepyker ... Die volgende môre sien hulle toe ... 'n plank ... voor die hartbeeshuisie se ope deur (J.F.W. Grosskopf, vert.: Maléo, 1957, 44).
paal'huisbewoner s.nw.
paalindrywer s.nw., paalindrywers. Toestel wat pale i.d. grond dryf, dikw. i.d. oprigting van heinings gebruik; sin. paalplanter: Die paalindrywer kan die boer aansienlike tyd en koste bespaar met die oprig van draadheinings (Landbw., 5 Okt. 1979, 49). 'n Paalindrywer wat tot 40 pale per uur kan inslaan, is ... aan verteenwoordigers van belanghebbende organisasies bekend gestel (Oost., 17 Aug. 1979, 5).
paalklim
I s.nw. Vermaaklikheidsitem waarby deelnemers poog om so vinnig as moontlik tot bo teen 'n paal en terug grond toe te klim: Altesaam vyftig plaaswerkers het onlangs aan 'n sportdag deelgeneem ... Die werkers kon hul staal wys met die dromry, rektrek, ... paalklim en toutrek (Burg., 16 Jun. 1989, 10).
II ww., het paalgeklim. Teen 'n paal uit klim, gew. as vorm van vermaak of oefening: Studente wat ure aaneen paalklim, kaas eet, paalsit, terwyl ander hulle in donkiery ... verlustig, gaan ... aan die orde van die dag wees (Transv., 22 Apr. 1968, 7).
paal'klimmer s.nw.
paalkompas s.nw., paalkompasse; paalkompassie. (ongewoon) Kompas (KOMPAS 1) wat op 'n paal bokant die skipdek bevestig is ten einde die magnetiese invloed v.d. skip daarop te beperk.
paalkruis s.nw., paalkruise.
1 Kruis (1KRUIS I 2 a i) van pale gemaak:. In die kerk was daar 'n paalkruis reg agter die preekstoel.
2 Kruis (1KRUIS I 3 b) wat van pale gemaak is en wat in riviere of waterlope geplaas word om die walle teen uitkalwing te beskerm: Paalkruise ... vertraag die snelheid van ... vloedwater en voorkom die uitkalwing van walle (Landbounuus, 4 Aug. 1978, 5). Resultate behaal met paalkruise en ... wegslaanwalle dui op die doeltreffende bestryding van die uitkalwing van rivieroewers (Jv. L.T.D., 1972 – 1973, 17).
paalplanter s.nw., paalplanters. Paalindrywer: Die meganiese paalplanter ... (kan) 1 000 pale per dag ... plant (Burg., 5 Jun. 1998, Landboub., 10).
paalsit
I s.nw. Handeling van op 'n paal te sit of vermaaklikheidsitem of -aktiwiteit waarby iem. 'n tyd lank op 'n paal deurbring, dikw. m.d. doel om fondse in te samel of 'n rekord op te stel: Mnr. J.M. ... het ... die wêreldrekord in paalsit verbeter deurdat hy 525 dae ... bokant die parkeerterrein van 'n winkelsentrum gewoon het (Beeld, 24 Mrt. 1994, 9).
II ww., het gepaalsit of het paalgesit. Paalsit (PAALSIT I) beoefen, of daaraan deelneem: Ek (kon) ... deur my kantoorvenster 'n paalsitter ... sien. Nou kyk, dáárdie kêrel het gepaalsit, en dit op die Morrison-Hotel se vlagpaal! (Burg., 8 Des. 1969, 12).
paal'sitkampioen s.nw., paal'sitkompetisie s.nw., paal'sitrekord s.nw., paal'sitter s.nw.
paalskuit s.nw., paalskuite. Oop platboomskuit wat gew. vir kort vaarte in vlakkerige water gebruik word en wat aangedryf word deur met 'n paal i.d. bodem te druk: S. ... het die rivier ... met 'n paalskuit oorgesteek en na sy volgende afspraak beweeg (Burg., 3 Sept. 1987, 1).
paalspring (atletiek)
I s.nw.
1 (dikw. saam met die) Veldnommer waarin 'n deelnemer momentum opbou in 'n aanloop, die paal (PAAL I 2 b) wat gedra word in 'n gat laat vassteek, en momentum en die veerkragtige aksie v.d. paal gebruik in 'n poging om oor 'n dwarslat te kom; sin. paalspringitem (minder gebruiklik), paalspringnommer (minder gebruiklik): F.R. het tweede met 13 vt. 6 dm. in die paalspring gekom ... D.B. (het) die paalspringtitel met dieselfde hoogte gewen (Vad., 21 Apr. 1960, 24). Die springnommers (hoogspring, paalspring, verspring en driesprong) word saam onder veldnommers gevoeg (Ens. v.d. Wêreld 1, 1971, 616). Die byeenkoms het weens reën ... laat begin. Die paalspring moes gekanselleer word omdat die toestande te gevaarlik was (Volksbl., 12 Mrt. 1998, bylae, 16).
2 Handeling of aktiwiteit van paal te spring (PAALSPRING II): Paalspring beoefen, doen. ≈ Sy is ... die afgelope vier jaar SA kampioen nadat sy in 1995 met paalspring begin het (Burg., 16 Des. 1998, 23).
II ww., het paalgespring. Paalspring (PAALSPRING I 1) beoefen, of daaraan deelneem:. As jy lank en lenig is, beteken dit nie noodwendig jy kan paalspring nie.
paal'springafrigter s.nw., paal'springatleet s.nw., paal'springer s.nw., paal'springkampioen s.nw., paal'springrekord s.nw., paal'springtitel s.nw.
paalspringitem s.nw. (atletiek; minder gebruiklik) Paalspring (PAALSPRING I 1):. Die kampioen gaan nie aan die paalspringitem deelneem nie.
paalspringnommer s.nw. (atletiek; minder gebruiklik) Paalspring (PAALSPRING I 1): Die paalspringnommer is deur B. van die Oekraïne met 'n hoogte van 5,70 meter gewen (Beeld, 15 Aug. 1992, 22).
paalspringpaal s.nw., paalspringpale. (atletiek; minder gebruiklik) Paal (PAAL I 2 b): 'n Paalspring-paal kos R80 en breek soos 'n vuurhoutjie (Oost., 4 Okt. 1974, Byv., 2). Die bussie (was) weg en ... hulle (het) tot hul ontsteltenis vasgestel dat dit gesteel is. P. se paalspringpaal en ... atletiekklere was in die bussie (Burg., 13 Apr. 1987, Snuffelgids, 10).
paalsteek s.nw., paalsteke; paalstekie. Glyvaste knoop (1KNOOP I 1 a) wat dikw. in skeepvaart en op seevaartuie gebruik word, wat gemaak word deur 'n lus in 'n lengte tou te vorm, die een punt v.d. tou deur die lus te steek, dit agter om die tou te slaan, en weer deur die lus te steek; sin. oogsteek: Paalsteek ... is 'n knoop wat nie kan toeskuif nie, al is die gewig wat dit moet dra ook hoe groot (J.A. Coetsee, e.a.: Knope, 1962, 23).
paaltjie s.nw., paaltjies.
1 Vkw. van paal (PAAL I 1).
2 (krieket)
a i Enigeen van twee stelle van drie penne (2PEN I 3 a) wat 22 treë uitmekaar i.d. middel van 'n kolfblad opgestel word op so 'n manier dat die penne parallel met mekaar is, en met twee dwarsbalkies bo-op elke stel; sin. krieketpaaltjie (ongewoon): 'n Paaltjie bestaan uit vyf stukke, d.w.s. drie penne en twee dwarsbalkies. Daar is twee sulke paaltjies en hulle word ... teenoor en parallel met mekaar opgestel (J.G. Cooke: Krieketreg, 1966, 32). Elke paaltjie is 22,9 cm wyd en bestaan uit drie penne met twee dwarsbalkies daarop (R. de Klerk: Sportsoorte2, 1981, 90). 'n Kolwer ... hou sy kolf regop op die grond voor die paaltjie en vra die skeidsregter om een van die volgende: (i) bypen ... (ii) middel-en-bypen ... (iii) middelpen (J.G. Cooke: Krieketreg, 1966, 113).
Vgl. BEEN VOOR PAALTJIE (BEEN, uitdr.).
ii Enigeen van verskeie voorwerpe wat in informele krieket as paaltjie (PAALTJIE 2 a i) gebruik word; sin. krieketpaaltjie (ongewoon):. 'n Leë koeldrankkissie as paaltjie gebruik. Die vullisdrom is darem te hoog vir 'n paaltjie.
b i 'n Paaltjie wat geneem word (PAALTJIE, uitdr.) of is, dikw. deurdat die bouler 'n kolwer of kolwers uitboul, vang of laat vang: Die telling is 24 vir die verlies van twee paaltjies. ≈ Soos die meeste blitsboulers het hy 'n vroeë paaltjie nodig om die beste uit hom te haal (Huisg., 27 Des. 1966, 68). Die Paki's, wat ... op 41/2 voortgekolf het, (het) drie paaltjies vir net 'n verdere 39 lopies verloor (Rapport, 25 Okt. 1997, 20). Hugh Tayfield het ... van die westekant af geboul ... Agt paaltjies vir veertig lopies in een beurt, veertien vir honderd-ses-en-twintig in een enkele wedstryd (W. Barnard: Krieketkampioene, 1956, 7).
ii Geleentheid om verder te kolf: Jou paaltjie beskerm, opoffer. ≈ Nadat S. sy paaltjie met sy telling op 10 verloor het, het die gevaarligte begin flikker (Beeld, 25 Sept. 1990, 22). Die Windies se kolwers (het) ... in die wedstryd teleurgestel. Byna almal van hulle het met los houe hul paaltjies weggegooi (Burg., 20 Des. 1983, 22). Johan (onthou) ... dat dit byna 'n misdaad is om voor die teepouse 'n paaltjie te verloor (P. v.d. Merwe: Wenkrieket, 1967, 55).
c (dikw. saam met met en 'n telw.) (t.o.v. die uitslag van 'n wedstryd) Kolwer of kolwers wie se kolfbeurt nog nie beëindig is nie of wat nog nie gaan kolf het toe die vereiste aantal lopies behaal is nie: Groenland het Platrand in die wedstryd om die krieketuitdaagbeker met een paaltjie ... geklop (J.G. v. Alphen: Leesb., 1936, 57). 'n Australiese elftal, wat met die oog op die toetswedstryd gekies is, is met drie paaltjies geklop (Panorama, Mei 1964, 37). N.J. se eerste honderdtal in 'n internasionale eendaagse krieketwedstryd het Zimbabwe ... na 'n oorwinning met ses paaltjies oor Pakistan gevoer (Burg., 23 Nov. 1998, 12).
UITDR.
GESPESIALISEERD
boul: om die paaltjie boul (krieket; t.o.v. die paaltjie a.d. boulerskant) Sodanig boul dat die arm waarmee geboul word, die verste v.d. paaltjie is wanneer die bal afgelewer word:. Van agter gesien, trap 'n linkerhandse bouler aan die linkerkant van die paaltjie vas wanneer hy om die paaltjie boul, terwyl 'n regterhandse bouler aan die teenoorgestelde kant vastrap.
boul: oor die paaltjie boul (krieket; t.o.v. die paaltjie a.d. boulerskant) Sodanig boul dat die arm waarmee geboul word, die naaste a.d. paaltjie is wanneer die bal afgelewer word:. Normaalweg boul boulers oor die paaltjie na die meeste kolwers.
breek: die paaltjie breek (krieket) Die normale stand v.d. paaltjie versteur, veral deur een of meer v.d. penne om te stamp, of 'n dwarsbalkie of die dwarsbalkies af te stamp of te verwyder: Indien die paaltjie gebreek word terwyl die bal in spel is, is dit nie die skeidsregter se plig om die paaltjie te herstel totdat die bal “dood” geraak het nie (J.G. Cooke: Krieketreg, 1966, 123). 'n Veldwerker mag ... sy hand of sy arm gebruik om die paaltjie te breek, mits die bal in die hand wat vir die doel gebruik word, vasgehou word (Labuschagne – Ettlinger: Krieket, s.j., 10).
inoes: 'n paaltjie inoes (krieket) 'n Paaltjie neem (PAALTJIE, uitdr.): Hoewel die boulers soms deurgeloop het, was S.P. nogtans ongelukkig om nie meer as sy twee paaltjies te kon inoes nie (Rapport, 25 Okt. 1997, 20).
kantel: 'n paaltjie kantel (krieket) 'n Paaltjie val (PAALTJIE, uitdr.): Eers was daar die stille sekerheid dat Suid-Afrika dit gaan maak ... Toe die beklemming, die angs en die wanhoop terwyl die paaltjies een vir een kantel (Rapport, 27 Jun. 1999, 10).
kantel: 'n paaltjie laat kantel (krieket) 'n Paaltjie neem (PAALTJIE, uitdr.): P. het in drie ... wedstryde ... tot dusver die meeste paaltjies in die meerdaagse reeks laat kantel (Burg., 20 Nov. 1998, 18).
kry: 'n paaltjie kry (krieket) 'n Paaltjie neem (PAALTJIE, uitdr.): Die snelbouler het my paaltjie gekry met 'n lieflike inswaaier. ≈ As jy Sri Lanka se kolwers lank genoeg kan vaspen, het jy 'n kans om 'n paaltjie te kry (Volksbl., 26 Mrt. 1998, 20). Hy (die bouler) moet deurentyd dink. Meer paaltjies word gekry deur 'n bouler wat die kolwer uitdink as deur 'n man wat meganies boul (P. v.d. Merwe: Wenkrieket, 1967, 35).
neem: 'n paaltjie neem (krieket) 'n Kolwer se kolfbeurt beëindig deur hom op een of ander manier uit te haal; sin. 'n paaltjie inoes, 'n paaltjie kry, 'n paaltjie laat kantel: B. het in die eerste toetswedstryd ... gespeel teen Wes-Indië en die heel eerste paaltjie geneem (Rapport, 20 Febr. 2000, 12).
paaltjie: agter die paaltjie(s)
1 (krieket) I.d. posisie van paaltjiewagter: Die paaltjiewagter ... het op die toer agter die paaltjies en met die kolf nie werklik na 'n internasionale speler gelyk nie (Burg., 25 Nov. 1998, 20).
2 (krieket) Deur die paaltjiewagter of enigeen v.d. glipveldwerkers: Hy word meermale agter die paaltjies gevang. Die keerwerk agter die paaltjies was nie na wense nie. ≈ S. het ... K. se 200ste slagoffer in eersterangse krieket geword toe hy deur Stewart agter die paaltjies uitgevang is (Burg., 20 Nov. 1998, 16). Strydom (het) ... vir S.K. ... skoongeboul en daarna vir T.B. agter die paaltjies laat uitvang (Beeld, 26 Sept. 1990, 22).
paaltjie: voor die paaltjie(s) (krieket) As kolwer, besig om te kolf: C., wat ... op 67 kom voortkolf het, was voortreflik. Hy het geen tekens van ongerief voor die paaltjies getoon nie (Volksbl., 23 Febr. 1998, 17).
paaltjie: om die ... paaltjie (krieket) Deel van 'n vennootskap tussen twee kolwers vandat hulle saam begin kolf het totdat enigeen v.d. twee uit is, numeries aangedui deur die aantal kolwers wat uit is of uit sal wees as die vennootskap beëindig word: S. en Y. het 'n vennootskap van 58 lopies in 52 minute om die negende paaltjie geslaan (Rapport, 25 Okt. 1997, 20). Die Noord-Transvaalse kaptein ... en H. se vennootskap om die tweede paaltjie het 83 lopies bedra (Beeld, 29 Okt. 1990, 15).
plat: 'n paaltjie is plat (krieket) 'n Paaltjie val (PAALTJIE, uitdr.): Dit (die bal) het ... hom been voor paaltjie ... betrap. Daarmee was die sesde paaltjie plat (Volksbl., 2 Nov. 1999, 12).
val: 'n paaltjie val (krieket) 'n Kolwer is uit of word uitgehaal; sin. 'n paaltjie kantel, 'n paaltjie is plat:. As daar nou 'n paaltjie val, moet jy gaan kolf. Die paaltjies het met eentonige reëlmaat geval.
paaltjieswagter s.nw., paaltjieswagters. (krieket; verouderend) Sien PAALTJIEWAGTER: Die onderwyser staan agter die paaltjieswagter en tree op as beide skeidsregter en tellinghouer (A.J. Maree, vert.: Les in Ligg. Opv., s.j., 177). Taamlik bek af het Verity aan die einde van die beurt verby Yorkshire se paaltjieswagter gestap (Huisg., 17 Jan. 1964, 20).
paaltjiewagter s.nw., paaltjiewagters. (krieket) Ook, verouderend, paaltjieswagter. Speler, gew. met spesiale handskoene en beenskutte aan, wat min of meer regoor en agter die paaltjie waar die kolwer slag bied, veldwerk doen: Een van die veldwerkers (doen) deurentyd agter die paaltjie ... veldwerk. Hierdie veldwerker is die paaltjiewagter en hy dra beenskutte en handskoene, die enigste veldwerker wat toegelaat word om dit te doen (Labuschagne – Ettlinger: Krieket, s.j., 11). Hoewel hy as paaltjiewagter twee goeie vangskote en 'n puik stonkkans benut het, het hy 'n moontlike stonkkans verbrou toe H.C. gekolf het (Volksbl., 3 Okt. 1990, 17).
paal'tjiewagterhandskoen s.nw.
paaltjiewagter-kolwer s.nw., paaltjiewagter-kolwers. (krieket) Paaltjiewagter wat op 'n gereelde basis goeie kolfwerk lewer en as kolwer gereken word; sin. kolwer-paaltjiewagter (verouderend): Die paaljiewagter-kolwer van Gauteng was ... met uitskeityd nog onoorwonne voor die paaltjies op 126 lopies wat hy van 193 balle behaal het (Rapport, 15 Nov. 1998, 4). Die paaltjiewagter-kolwer ... (het) sy eerste toetsvyftigtal geslaan ... en (was) uiteindelik onoorwonne ... met 69 lopies (Beeld, 7 Jan. 1999, Sportb., 18).
paalvas b.nw., paalvaste. (minder gebruiklik)
1 Wat getuig van beslistheid en waarby die oë nie afgewend word nie: 'n Paalvaste blik, kyk, uitdrukking.
• Ook byw.: Ek (het) ... paalvas in haar groen oë sit en kyk terwyl sy Malherbe se gedig ... voordra (G. Weideman: Onderskepper, 1997, 14).
2 Onwrikbaar: Hy is baie rigied, en sy paalvaste houding vervreem mense dikwels van hom.
• Ook byw.: Hy staan paalvas by alles wat hy gesê het (A.H. de Vries: Volmoed, 1972, 52).
3 Waaroor geen twyfel bestaan nie, of wat nie betwis kan word nie: 'n Paalvaste feit, stelling. ≈ Waarom bekommer jy jóú nou juis? Dis mos paalvas dat jy deur is (W.A. de Klerk: Komedie, 1955, 9).
paalwoning s.nw., paalwonings; paalwoninkie. (minder gebruiklik) Paalhuis (PAALHUIS 1): By Wangen ... het 50,000 pale ... 'n dorpie gestut. Sulke huise noem ons paalwonings (J.C. Pauw in Afr. Kinderens. I2, 1969, 204).
paalwurm s.nw., paalwurms; paalwurmpie. Betreklike klein mossel, Teredo navalis en, langs die S.A. kuslyn, Bankia carinata, (fam. Teredinidae), met 'n lang onbeskermde liggaam en 'n klein puntige skulp, twee lang haaragtige nieintrekbare suiers wat hfs. vir voeding, afskeiding en voortplanting gebruik word, wat gange in ondergedompelde hout boor en wat in warm oseane en riviermondings voorkom; sin. skeepswurm; teredo (minder gebruiklik), teredowurm (minder gebruiklik): In die ou dae is baie houtskepe gekelder deur die talle gate wat in die planke geboor is deur die sogenoemde “paalwurm”, 'n betreklike klein tweeskulpweekdier (D. Hey: Natuurerfenis, 1971, 89). Die hele romp onder die waterlyn is met koperplaat bedek om dit teen paalwurms te beskerm wat gate deur die romp boor (Burg., 11 Apr. 1987, 4).