• 24/10/2024

Die letter U is nou aanlyn beskikbaar

Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal het onlangs die letter U aanlyn gepubliseer. Hierdie nuutste trajek van die WAT strek vanaf die inskrywing vir die letter U as die 21ste letter van die alfabet tot by die woord Uzzi-masjiengeweer. Dit bevat 2 144 lemmas, 5 351 betekenisonderskeidings, 13 962 voorbeeldsinne, 792 poëme en 252 uitdrukkings.

Die bekendstelling het by Stias op Stellenbosch plaasgevind.

Prof. Hester Klopper, voorsitter van die WAT-direksie, het die WAT-redaksie, asook die WAT Trust bedank. As vise-rektor van die US het sy haar waardering vir die goeie samewerking tussen die WAT en US uitgespreek en het die universiteit se verbintenis tot en ondersteuning van die WAT verseker.

Mnr. Johan Holtzhausen, voorsitter van die WAT Trust, het die WAT-direksie vir hul oorsigrol bedank en het die WAT-redaksie geluk gewens met hul uitstekende prestasie en dat daar steeds by die Tienjaarplan gehou word. Holtzhausen het die WAT se donateurs bedank vir hul ondersteuning om hierdie prestasie ’n werklikheid te maak.

By die geleentheid het Gerhard van Wyk, eindredakteur van die WAT, die gehoor ingelig oor die omvang van die U-trajek en ’n verskeidenheid interessante voorbeelde uitgelig. Phillip Louw, hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die WAT, het hierna uitgebrei oor die suksesse van die afgelope jaar en sy toekomsvisie vir die WAT gedeel.

Kyk na die video’s:

Lees ook Gerhard van Wyk se volledige toespraak hier.

Deel op Sosiale Media