Alhoewel die eerste uitgawe van die Etimologiewoordeboek van Afrikaans (EWA) wat in 2003 verskyn het meer as 8 000 trefwoorde ingesluit het, was daar nog ’n groot hoeveelheid Afrikaanse woorde wat etimologiese beskrywing verdien het, maar wat nie in die eerste uitgawe opgeneem is nie. Om hierdie leemte aan te vul, is ’n gedeelte van daardie ontbrekende woorde in die Etimologiewoordeboek van Afrikaans Supplement (EWA Supplement) ingesluit.

Die EWA Supplement bevat meer as 2 300 nuwe trefwoorde wat sorgvuldig gekies is om die ryk, multikulturele oorsprong van Afrikaanse woorde te illustreer. Die woordeboek sal leesplesier verskaf vir elkeen wat meer van die herkoms van Afrikaanse woorde te wete wil kom. Lesers sal ’n goeie aanduiding kry van wat sedert 1652 met die Nederlandse woordeskat in Suid-Afrika gebeur het, en ook van dít wat Afrikaans sonder die toedoen van Nederlands bygekry het.

Die woordeboek het ’n maklik leesbare karakter deurdat verskillende soorte inligting duidelik van mekaar geskei word. Soos in die geval van die eerste uitgawe van die EWA tree die EWA Supplement vernuwend op deur ruim aandag aan betekenisaanbieding te bestee, interessante benoemingsmotiewe aan te bied, en die onderskeid tussen verskillende tipes etimologiese inligting tipografies te markeer.

Die projek is die resultaat van ’n voortgesette etimologiese samewerkingsooreenkoms wat reeds in 1995 begin het. Die gedagte vir die samestelling van ’n supplement is van die Hoofredakteur van die WAT, dr. Willem Botha, afkomstig, en is ondersteun deur prof. P.G.J. van Sterkenburg, Direkteur van die Instituut voor Nederlandse Lexicologie (INL), en dr. J. Kist, Penningmeester van die INL. Die EWA Supplement is saamgestel met fondse wat uit Nederland bekom is.

Prof. Fons Moerdijk, Oudhoofredakteur van die Woordenboek der Nederlandsche Taal en tans Hoofredakteur van die Algemeen Nederlands Woordenboek, is ook by die projek betrek om opleiding te verskaf aan die redaksie.

Mnr. Gerhard van Wyk, wat as redakteur van die woordeboek opgetree het, het die manuskrip geredigeer en tegnies versorg, terwyl mev. Alet Cloete, dr. Helena Liebenberg, prof. Johan Lubbe en dr. Anton Prinsloo as outeurs van die woordeboek opgetree het en die manuskrip gemaak het.

Die woordeboek beslaan 231 bladsye.