trawal
(tra-wal) s.nw. (‹Port. trabalho, “probleme”)
1 Probleme of swaarkry: (Dié) Griet (’n karakter in ’n boek) is sommer net so ’n gewone, eietydse stadsGriet wat hier op bladsy twee van Marita van der Vyver se boek met haar kop in die gasoond lê om ’n end te maak aan haar aardse trawal (Insig, Mei 1992, B3).
■ Soms i.d. mv. trawalle: (’n) Mens het die magistraat aldag nodig. Om jou uit die trawalle uit te help — met die kinders en dinge wat so ongeleerd is en loop en kwaad doen en ongeregtigheid aanvang (E. Kotze: Hemel, 1992, 101).
2 Bohaai of chaos: Hul (die fliekgangers se) plekke (is) gegaps … deur vreemdelinge wat tydens die pouse ingeglip het — en dit het so ’n trawal afgegee dat die film eers gestaak moes word (A.P. Brink: Vurk, 2009, 68).