• 17/04/2025

WAT wys sy kleure

Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal is in die proses om sy aanlyn woordeboek by www.woordeboek.co.za volledig te hersien om ’n gebruikersvriendelike ervaring aan ons gebruikers en navorsers te bring. Die nuwe ontwerp en funksionaliteite voldoen aan internasionale praktyk en sal die skatkis van Afrikaans op ’n visueel aantreklike wyse ontsluit.

Die veranderinge sal in verskillende fases geïmplementeer word, en elke fase sal eers deeglik getoets word om ’n naatlose oorgang tot die finale produk te verseker. Met die eerste fase word die kleurskema en lettergrootte en -tipe aangepas. Al die ander funksionaliteite bly dieselfde.

Die nuwe kleurskema kombineer swart met verskillende skakerings van blou en grys. Die lettertipe is skoon en maklik leesbaar op kleiner selfoonskerms. Die oogmerk is om ’n elegante ontwerp daar te stel wat terselfdertyd die gebruiker se oog lei na die belangrikste inligting en ’n doeltreffende woordeboeksoektog verseker.

Die Aanlyn WAT het die afgelope paar jaar die belangrikste produk van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal geword aangesien die nuwe dele vanaf T tans slegs aanlyn beskikbaar is. Dit is ons oogmerk om hierdie aanlyn woordeboek te ontwikkel tot ’n vlagskipproduk wat gelykwaardig is aan die beste internasionale aanlyn woordeboeke.

Kontak ons asseblief by wat@sun.ac.za indien van die veranderinge lastig is, of as jy ’n voorstel vir verbetering het. Jy kan inteken op die Aanlyn WAT of jou subskripsie hernu by www.wat.co.za.

Deel op Sosiale Media