• 16/12/2021

21 woorde wat vanjaar vir die eerste maal in die WAT opgeneem is

(Lees die oorspronklike artikel op Afrikaans.com hier)

Een van die lekkerste maniere om groei en vooruitgang in ’n taal te sien, is deur die skep van nuwe woorde. Die woorde hieronder is dalk nie almal splinternuut nie, maar is sedert vanjaar amptelik deel van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal – ’n mens kan dus sê dat hul nou amptelik deel is van ons taalfamilie. Praat saam!

aaptwak s.nw. (geselstaal; skertsend) DAGGA I 1: Tien jaar ná daardie eerste walglike zol van natgelekte koerantpapier, gebruik ek … aaptwak … steeds in onbeperkte hoeveelhede (Beeld, 15 Mei 2001, 9). ’n Helse klomp van die land se burgers (gebruik) elke dag … aaptwak … Boonop doen hulle dit al eeue lank en kan ’n mens dus nie eens die skuld daarvoor op Jan van Riebeeck pak nie (Rapport, 17 Mei 2015, E).

awê (geselstaal) Ook, geselstaal, aweh.
I tw. Uitroep wat deur jongmense, veral tieners, as groetvorm teenoor mekaar gebruik word: “Awê, hier’s ek weer van die Lentegeur en ek wys jou ek is beter gebou dié keer …” (Burg., 24 Okt. 2014, E).
II b.nw. Ongelooflik, wonderlik of asemrowend: Die sonsondergange in Namibië is darem vir jou awê.

banting (ook met ’n hl. Banting) s.nw. (Eng.; na William Banting, ’n Br. begrafnisondernemer wat baat gevind het by dié manier van voedselinname) Dieet of lewenswyse m.b.t. eet, veral vir gewigsverlies, wat kos insluit wat min koolhidrate en ’n redelik hoë vetinhoud bevat: Die kuier begin … in die hartjie van die dorp waar almal registreer en kan aansit vir ’n smaaklike pasta-ete. (Dankie tog, Tim Noakes en banting het nog nie in Louis Trichardt uitgekom nie) (Beeld, 12 Jun. 2015, 8). Volgens P. volg die nuwe boek die laekoolhidraat-, hoëvet-benadering. Dit is egter nie heeltemal Banting nie …“Terwyl ons volhou dat Banting nie onveilig is nie, gebruik ons ’n sagter benadering tot koolhidrate in dié boek” (Burg., 10 Jun. 2015, 3).

chakalaka s.nw. (in S.A. kookkuns) Groentesous, gew. met ’n skerp geur, wat van tamaties, uie, speserye en veral bone gemaak word en wat tradisioneel i.d. townships saam met brood, pap en stampmielies voorgesit word: Engelse en Amerikaanse sokkergeesdriftiges (het) die wonder van braai ontdek. Met kieste vol braaivleis en nog groter hompe pap en chakalaka op hul borde het ondersteuners behoorlik by Lucky’s Pub in Phokeng gekuier (Rapport, 13 Jun. 2010, E). Vir R20 kry jy skaapvleis, pap, chakalaka en hoenderpoot … Vir R15 kry jy hoender en pap (Volksbl., 5 Apr. 2014, 14).

doef-doef-musiek s.nw. Musiek (MUSIEK 2 a) met diep, luide en herhalende basklanke: Die Afrikaanse musiekmark word tans gekenmerk deur swak lirieke, goedkoop rymelary en ’n oormaat doef-doef-musiek (Beeld, 3 Jul. 2013, 10). Doef-doef-musiek stimuleer die meer primitiewe middelste deel van die brein. Tromme en dreunsang plaas ’n mens in ’n semi-hipnose (Volksbl., 3 Mei 2012, 6).

e-boek s.nw., e-boeke. Elektroniese weergawe van ’n gedrukte boek wat op ’n rekenaar of e-leser gelees word; sin. elektroniese boek: Die boek is by goeie geestelike boekwinkels te koop. Dit is as e-boek beskikbaar by Leserskring, Amazon.com en Kalahari.net (Landbw., 20 Des. 2013, 89).

fleksietyd s.nw. Ook soms fleksietye. Reëling of stelsel in ’n werkplek waarvolgens ’n werknemer, afgesien van ’n vaste kerntyd, sy of haar eie kantoorure binne perke kan bepaal en meer vryheid toegelaat word wat aankoms- en vertrektye betref, maar waarvolgens daar v.d. werknemer verwag word om ’n vereiste aantal ure per dag, week of maand te werk; sin. skiktyd; skiktye (minder gebruiklik), skuiftyd (verouderd): In haar ou nege-tot-vyf-werk het sy altyd na meer fleksietyd gesmag. Daarom pas die aanlyn winkel haar goed.Tog beteken fleksietyd meestal hééltyd werk, omdat sy daarvan hou om dinge gedoen te kry en die klantediens haar aan die gang hou (Burg., 26 Mrt. 2014, 3). Al het hiërargie in die werkplek hoofsaaklik sy jis gesien, met ’n groter klem op platter strukture, meer informele kleredrag en fleksietyd, is burokrasie in groot organisasies soos die staatsdiens en universiteite nog springlewendig (Rapport, 30 Sept. 2007, E).

UITDR.
GESPESIALISEERD

werk: fleksietyd werk Van fleksietyd in jou werkplek gebruik maak; sin. skiktyd werk: Laat mense toe om fleksietyd te werk. Só word die (verkeers)drukte in spitstye verminder (Rapport, 7 Nov. 2004, 21). Maatskappye en entrepreneurs moet besef dat mense al hoe meer fleksietyd werk en hulle sal hul personeelbeleid daarvolgens moet aanpas om aan die voorpunt van hierdie veranderings te bly en om hul personeel gelukkig te hou (Rapport, 5 Okt. 2014, E).

grendeltyd s.nw., grendeltye. Tydperk waartydens mense van ’n gebied, streek of land se vryheid van beweging en kontak met andere beperk word, gew. kragtens ’n regeringsbesluit, dikw. om te voorkom dat ’n baie aansteeklike siekte versprei word; sin. inperking: Gedurende die grendeltyd werk baie mense … van hulle huis af, wat die grense tussen huis, kantoor en klaskamer laat vervaag (Netwerk24, 5 Mrt. 2021, E). Die vreemdheid van ingehoktheid in jou eie woning alleen of saam met jou huismense is vir eers verby, maar grendeltyd self is nog lank nie klaar nie! (Graaff-Reinet Advertiser, 15 Apr. 2020, E). Dit was die jaar waartydens Covid-19 ons restourasieprojek ietwat aan bande gelê het, maar ondanks verskeie grendeltye en geslote winkel het ons steeds gevorder (Tuis, 5 Febr. 2021, E).

hommeltuig s.nw., hommeltuie. Onbemande lugvaartuig wat met afstandbeheer of deur ’n rekenaar i.d. lug gehou word: Dit behoort moontlik te wees om via ’n toepassing op ’n selfoon ’n omvattende blik te kry van wat op jou plaas aangaan. Voeg ’n hommeltuig se reikwydte by en die patrollering van die plaas kry ’n ekstra, relatief laekoste-voordeel bo die misdadiger (Volksbl., 14 Aug. 2015, E). Pres. B.O. (het) erken … twee onskuldige gyselaars is in ’n Al-Kaïda-vesting in Pakistan deur Amerikaanse hommeltuie gedood (Rapport, 29 Apr. 2015, 10).
hom’meltuigoperateur s.nw.

internetkoerant s.nw., internetkoerante. Koerant (KOERANT 1 a) wat aanlyn verskyn, hetsy as selfstandige publikasie of as aanlyn weergawe van ’n gedrukte publikasie; sin. e-koerant, elektroniese koerant: Die meningsverskil het … duidelik geblyk toe die ANC in ’n verklaring in sy internetkoerant ANC Today gesê het dis van kritieke belang dat die probleme tussen die twee partye uit die weg geruim word (Rapport, 12 Jan. 2003, 2). Dié rubriek … is op http://www.dieburger.com beskikbaar. Die Burger se internetkoerant kan net deur M-Web bereik word (Burg., 15 Okt. 2001, 3).

kitsskare s.nw. Groep mense wat spontaan op ’n bep. plek, gew. openbaar van aard, bymekaarkom of wat via die sosiale media reël om so bymekaar te kom, dikw. sodat ’n afgesproke handeling uitgevoer word as vorm van vermaak, satire of artistieke uitdrukking: Die grootste kitsskare in die geskiedenis was op 30 November 2006 in Londen, waar ongeveer 3 500 mense saam vir tien minute ’n tjoepstil rave by die Paddington-stasie gehou het (Beeld, 18 Jun. 2007, 6).

komvandaan s.nw. (geselstaal) Plek waar iem. gebore is of grootgeword het: Een of ander tyd móés dit kom. Dat ek sou afskeid neem van my komvandaan (Rapport, 29 Mei 2005, 22). Anna Sophia, het haar ouers haar genoem sodat sy nooit haar komvandaan sou vergeet nie. Ons het gelag, want dit was vreemd dat die geboorte van ’n eersteling twee vrygeeste so sentimenteel oor hul herkoms kon maak (Beeld, 29 Nov. 2013, 8).

lugbraaier s.nw., lugbraaiers. Toestel waarin voedsel m.b.v. warm lug wat teen ’n hoë spoed gesirkuleer word, gaargemaak word: ’n Lugbraaier (werk) met ’n meganiese waaier wat warm lug binne ’n kookkamer gelykmatig sirkuleer — gewoonlik teen temperature van tussen 180 en 200 °C (Wikipedia, Lugbraaier, 18 Des. 2018, E).

mikrogroente s.nw. Enige blaargroente wat van saad gekweek word, en wat geoes word sodra die eerste stel eetbare blare verskyn: As jy nie ’n tuin het nie, kan jy mikrogroente in houers op ’n balkon of vensterbank kweek.Gesondheidsbewustes wat soggens vroeg hul groen skommels brou, gebruik … vars geoeste mikrogroente soos babaspinasieblaartjies en koringgrasspriete en sê groentesoorte soos broccoli en kool in die “pienkvoet”-stadium is amper lekkerder as dié wat maande neem om oesgereed te word (Beeld, 2 Mei 2015, E).

nylonkoffie s.nw. (geselstaal; skertsend) KITSKOFFIE: Ons drink maar nog bostee, as ons kan kry, as die veld bostee oorhet om vir ons te brou. Dis ál keelnatmaak wat ons het, behalwe nylonkoffie (kitskoffie) (Landbw., 20 Apr. 2012, 83).

oogpoeding s.nw. (n.d. Eng. eye candy) Iem. wat besonder aantreklik is of iets wat esteties goed vertoon: Tot voor hierdie sege … was D. hoofsaaklik bekend as die meisie wat al met die Spaanse speler F.V. uitgegaan het. Sy is egter self ’n baie aanvallige speler en sal S. se mantel as die “oogpoeding” met waardigheid dra (Beeld, 25 Jun. 2009, 26).

paleo (ook met ’n hl. Paleo) s.nw. (Gr., “antiek”, “oud”) Dieet wat ooreenstem met dit wat oermense volgens oorlewering geëet het, en wat bestaan uit vleis, vis, vrugte en groente, terwyl suiwelprodukte en geprosesseerde kos vermy word; sin. paleodieet; paleolitiese dieet (ongewoon): Met die puik gesondheidsvoordele van wildsvleis en die wêreldneiging na diëte, soos Paleo, Atkins en Banting, het ons die regte produk (Landbw., 28 Aug. 2015, 14).  “Deesdae hou ek die nuwe dieet-giere soos Banting en Paleo aandagtig dop en bewonder die mense wat dit so noukeurig volg. Volhoubaarheid gee steeds die deurslag in enige dieet,” meen sy (die kosskrywer) (Beeld, 25 Sept. 2014, E).

quinoa (uitspraak: kie-noe-wha / kien-wha) s.nw. Misbredie (MISBREDIE 1), Chenopodium quinoa (fam. Amaranthaceae), wat 3 000 tot 4 000 jaar gelede i.d. Andesstreke van Peru, Bolivië, Ecuador en Colombië ontstaan het, wat aangeplant word vir die eetbare saadjies wat proteïenryk is en aminosure, redelike hoeveelhede kalsium, fosfor en yster bevat: “Watter kos was onontbeerlik vir jou (stap)ekspedisie?” “Rys, volgraanpasta, enigiets waarby jy water gooi en kan kook binne ’n minuut, soos Oatso Easy, pakkies tuna, proteïenstafies en quinoa, ’n Suid-Amerikaanse graansoort” (Burg., 29 Mei 2014, bylae, 17). Die polenta, koeskoes, quinoa, basmati-rys en bulgurkoring staan deesdae ingeryg op ons winkelrakke — glad nie meer vreemd of moeilik verkrygbaar nie (Huisg., 6 Aug. 2009, 47). Die drie pseudo-grane wat (tydens die inligtingsdag) veral onder die vergrootglas gekom het, is quinoa, graan-amarant en bokwiet. Almal (se) … proteïengehalte is beter (danksy ’n gunstige aminosuurbalans) én daarby bevat die meel géén gluten nie (Landbw., 13 Des. 2013, 54).
Vgl. PSEUDOGRAAN.

rooifluweelkoek s.nw., rooifluweelkoeke. Koek (1KOEK I 1 a) met ’n donkerrooi, helderrooi of rooibruin kleur wat gew. gemaak word van karringmelk, botter, kakao en meel en wat met beet of rooi voedselkleursel gekleur word en ook dikw. met roomkaasversiersel versier word: Dis Valentynsdag, teetyd, en die kleur van die rooifluweelkoek word herhaal in die skoenlappermotief op haar bloes (Rapport, 27 Febr. 2012, 13). Ek is gek na rooifluweelkoek — jy kan mos nie ’n fout begaan met ’n klam koek met ’n sjokoladesmaak nie, volmaak gekomplementeer deur donsige roomkaasversiersel (Beeld, 17 Okt. 2013, bylae, 23). Die gewildste troukoeke, net soos trourokke, word bepaal deur modes en neigings … Rooifluweelkoeke met ’n roomkaasversiersel is nou die meeste bruide se eerste keuse (Beeld, 10 Apr. 2012, 13).

sjoekran (sjoe-kran) tw. (veral i.d. taal v.d. Moesliems) Ook shoekran en shukran. (Arab. shukran) DANKIE I: Sy vlieg op en hardloop … Oor haar skouer sien sy dat oom Moshe haar agternasit … Liora hardloop koes-koes tussen vroue deur … Toe sy haar in ’n doodloopgang bevind, lig ’n jong vrou … haar voorskoot en laat dit oor haar sak. “Sjoekran, Jaseena,” sê Liora. Dis een van die min Arabiese woorde wat sy ken: dankie (J. v. Tonder: Verevrou, 2019, E) Sjoekran, thank you, baie dankie en enkosi vir die voorbeeldige manier waarop die hongeres gevoed en ondersteun word (Son, 16 Mei 2020, E).

Onthou dat hierdie sowel as die res van die woorde in die WAT geborg of gekoop kan word.

Hoe werk Borg ’n Woord?

  • Borg ’n Woord teen R100 per woord of Koop ’n Woord teen R5 000, dan behoort daardie woord net aan jou.
  • Jy ontvang ’n sertifikaat met jou naam en woord.
  • Jy kan R25 000 wen in ’n prystrekking geborg deur Sanlam.
  • Hoe meer woorde jy borg of koop, hoe groter is jou wenkans.
  • Jy kry gratis toegang tot die Aanlyn WAT vir ses maande as jy ’n woord borg of vir vyf jaar as jy ’n woord koop.
  • Jy kan ook ’n skenking vir ’n spesifieke woord maak. As jy R5 000 vir ’n woord skenk, ontvang jy, benewens jou Borg ’n Woord-sertifikaat en toegang tot die Aanlyn WAT, ’n 18A-belastingsertifikaat.

Deel op Sosiale Media