In die hantering van beledigende en sensitiewe leksikale items word daar rekening gehou met die volgende kategorieë, nl. rassismes, seksismes en sensitiewe leksikale items wat gestigmatiseerde seksuele verskynsels, praktyke en voorkeure by die mens aandui (straatvrou, steek (1steek I 5), stuk (bet. 4)), leksikale items waarmee gestigmatiseerde fisieke of geestelike toestande en verskynsels by die mens benoem word (stom, stumper, swaksinnige), leksikale items wat politieke en sosiale verskille benoem (stemjuffer, stadsjapie, straatlêer) en plat en vulgêre leksikale items, skeltaal en vloeke (stoter, strontgat, suurpoes).

Alle beledigende of sensitiewe simplekse, komposita en uitdrukkings wat aan die algemene gebruiklikheidskriterium van die WAT voldoen, word gelemmatiseer. Duidelike en juiste etikette (sien hier vir voorbeelde van etikette) word by sodanige lemmas aangebied om die gebruiker teen die kwetsende aard daarvan te waarsku. Waar moontlik, word ’n kwetsende leksikale item na die gebruiklikste neutrale sinoniem verwys. Indien dit nie moontlik is nie, word die definisie so neutraal as moontlik gestel. By rassismes word geen sitate verstrek nie en waar dit wel by die ander kategorieë gegee word, word dit met omsigtigheid gekies. Alle artikels van beledigende en sensitiewe leksikale items word vir korrektheid en sensitiewe hantering deur adviseurs gekontroleer.

Vanweë die uiters sensitiewe aard van rassismes, veral binne die Suid-Afrikaanse konteks, word hierdie groep leksikale items in afgeskaalde vorm in die gedrukte teks behandel. ’n Onderskeid word getref tussen volledig rassistiese leksikale items, m.a.w. simplekse en uitdrukkings waarvan al die betekenisonderskeidings rassisties is, en gedeeltelik rassistiese items wat benewens ’n rassistiese betekenisonderskeiding ook neutrale betekenisonderskeidings het. By gedeeltelik rassistiese leksikale items word die neutrale betekenisonderskeidings volledig bewerk. Rassistiese betekenisonderskeidings en uitdrukkings, asook volledig rassistiese leksikale items, word aan bepaalde beperkings onderwerp, en die gebruiker word in die teks na hierdie deel van die toeligting verwys. Die WAT wil nie die gebruik, aanleer of bestendiging van rassismes bevorder nie en derhalwe word geen sinonieme, antonieme, ander verwysings of voorbeeldmateriaal by rassistiese betekenisonderskeidings, lemmas of uitdrukkings verstrek nie. Bronverwysings met rassistiese elemente daarin moes noodgedwonge behou word.

Alhoewel die WAT seksismes en ander sensitiewe leksikale items in dieselfde lig as rassismes beskou, word voorbeeldmateriaal, gewoonlik met die uitsondering van kollokasies en poëme, wel by sulke gevalle verskaf. Sulke voorbeeldmateriaal word omsigtig gekies.