Werkwinkels vir leerders
Die WAT bied werkwinkels vir graadsewe- tot graadnegeleerders aan met behulp van die Elektroniese WAT. Die werkwinkels sluit aan by die afdeling oor die gebruik van woordeboeke in die Afrikaans-kurrikulum. Uitgewerkte lesplanne word aan die opvoeders beskikbaar gestel wat daarop gemik is om die vaardighede ten opsigte van woordeboekgebruik wat deur die kurrikulum vereis word by die leerlinge te vestig.
Die werkwinkels word in die rekenaarlokale van die skole aangebied en duur ongeveer ’n uur. Die Elektroniese WAT word vooraf op die intranet van elke skool geïnstalleer en is dan permanent tot die skool se beskikking.
Klik hier indien u die skematiese voorstelling van ‘n inskrywing in die WAT wil aflaai.
Indien u belangstel in die werkwinkel of meer inligting verlang, kontak die hoofredakteur hier.
Kursusse in algemene en rekenaarleksikografie by die WAT
Kursusse in algemene leksikografie en rekenaarleksikografie word by die WAT aangebied. Die kursusse is gemik op praktiserende en voornemende leksikograwe, dosente en studente. Die kursusse word meestal in Engels aangebied, maar kan met gemak ook in Afrikaans geskied.
Indien u belangstel in die kursusse of meer inligting verlang, kontak die hoofredakteur hier.
Studente in die leksikografie
Senior of nagraadse studente in die leksikografie — plaaslik of buitelands — kan praktiese ervaring in die maak van ‘n woordeboek by die WAT kom opdoen. Hulle ontvang opleiding na gelang van hul behoeftes in algemene en rekenaarleksikografie. Die studente kry geleentheid om woordeboekartikels saam te stel met behulp van ‘n rekenaarprogram en die WAT se taaldata.
Studente word ook op versoek begelei om navorsingsprojekte met gebruikmaking van die WAT se taalmateriaal uit te voer.
Indien u belangstel of meer inligting verlang, kontak die hoofredakteur hier.
Woordeboeklesings
Lesings oor die verskillende soorte woordeboeke en die woordeboekmaakproses word op versoek aangebied. Groepe leerders, studente en ander geïnteresseerde persone kan die WAT besoek vir hierdie lesings.
Indien u belangstel in die lesings of meer inligting verlang, kontak die hoofredakteur hier.