Toeligting tot die bronnelys

Volledigheid
Hierdie lys bevat die bronne waaruit in die Aanlyn WAT aangehaal is, rekenaarmatig alfabeties gerangskik volgens die vorm van die bron soos vermeld in die teks. Alle brongegewens word gewoonlik tussen hakies na die aanhaling aangegee. Bronne van die volgende tipes is egter nie in die lys opgeneem nie:

  1. Publikasies van geringe omvang en min of meer efemere aard, bv. almanakke, brosjures, gemeentebriewe, kennisgewings, omsendbriewe, pamflette, plakkate, programme, strooibiljette en traktaatjies. Sulke bronne word gewoonlik volledig aangegee.
  2. Bybelboeke. Die afgekorte name van Bybelboeke verskyn in die Afkortingslys.
  3. Ongepubliseerde argiefstukke. Wanneer die betrokke argief bekend is, word dit in die bronvermelding by die aanhaling aangedui, bv. Kaapse Argiefstuk, N.G. Kerkargiefstuk.
  4. Nie-Afrikaanse bronne wat ’n enkele keer vermeld is in redaksionele voorbeeldsinne wat terminologiese, teoretiese of feitelike gegewens omtrent die betrokke lemma bevat. Sulke bronne word in verkorte, maar geredelik herkenbare vorm vermeld.

Gebruik van in
Dit word gebruik:

  1. om ’n skrywer met ’n periodieke publikasie of met ’n versamelwerk te verbind, bv. F.C. Fensham in Handhaaf; W.E.G. Louw in Burg.; A.G. Visser in G.S. en P.J. Nienaber: Afr. Ballades; T.H. le Roux in Mens tot Mens;
  2. ter aanduiding dat ’n primêre bron of ’n gedeelte daarvan in ’n sekondêre bron aangehaal of opgeneem is, bv. Brandw., 15 Aug. 1910, aanh. in E.C. Pienaar: Taal en Poësie; plakkaat, 1681, aanh. in J.L.M. Franken: Bydraes; Kaapsche Grensbl., 8 Des. 1849, in G.S. Nienaber: Afr. tot 1860; argiefstuk, 1791, in L.C. v. Oordt: Kaapse Taalarg.;
  3. by aanhalings uit vertalings, bewerkings, verwerkings of versamelwerke waarby die vertaler, bewerker, verwerker of oorspronklike skrywer nie genoem word nie, bv. in M. Fishbein: Dokter; in F.W. Reitz: Afr. Gedigte.

Vertaalde, bewerkte en verwerkte bronne
Aanhalings uit bronne van hierdie aard is verbind met die naam van die vertaler, bewerker of verwerker soos aangegee op die titelbladsy of elders in die
werk. In die bronnelys word ook die naam van die oorspronklike skrywer vermeld. Die aanduiding “vert.”, “bew.” of “verw.” word egter weggelaat by aanhalings uit gedeeltes van sulke bronne wat nie van die oorspronklike skrywer is nie, bv. by aanhalings uit die voorwoord, inleiding of voetnote.
Let daarop dat vertaalde, bewerkte en verwerkte bronne as aparte groepe onder skrywers geplaas word. Dit kom daarop neer dat Brink, A.P.: Wyn, waar Brink suiwer as skrywer en nie as vertaler of bewerker optree nie, na saamgegroepeerde gevalle soos Brink, A.P., vert.: Dooie en Brink, A.P., vert.: Reisigers geplaas word.

Titels
Wanneer die aangehaalde skrywersnaam en titel presies ooreenstem met dié op die titelblad van die betrokke werk, word lg. nie in die bronnelys naas die aangehaalde skrywersnaam en titel herhaal nie. Dit geld ook vir tipes bronne, soos nuusblaaie en tydskrifte, wat nie regstreeks met ’n skrywersnaam verbind is nie.
Skrywerlose bronne met identies verkorte titel, hoofsaaklik nuusblaaie en tydskrifte, word van mekaar onderskei deur nie-saamvallende datering.
By meertalige titels word alleen die Afrikaanse titel by aanhalings en in die bronnelys vermeld. Wanneer die titel van ’n werk as aanhaling gegee word, word dit na die skrywersnaam alleen as “titel” aangedui, bv. Piet Retief se lewe in die Kolonie (J.L.M. Franken, titel, 1949). Dié titel is die onverkorte titel aangegee in die bronnelys.

Druk (uitgawe)
Die eerste of enigste druk (uitgawe) word nie by aanhalings of in die bronnelys vermeld nie, wel die drukjaar, maar herdrukke (-uitgawes) word by die aangehaalde titel met ’n verhewe syfer na die titel aangedui. In die bronnelys word in die reël alleen die vroegste druk (uitgawe) vermeld waaroor die redaksie beskik het, behalwe wanneer die plek(ke) van publikasie by latere drukke (uitgawes) verskil.

Drukjaar, datum, jaartal
Die drukjaar van ’n bron of van ’n bepaalde druk (uitgawe) daarvan, of die datum van ’n periodieke publikasie volg na die aangehaalde titel.
By aanhalings uit Die Bybel dui die jaartal op die drukjaar van die betrokke uitgawe van Die Bybel, bv. 1 Kon. 2:14, 1957. By ’n ononderbroke reeks Bybelaanhalings met dieselfde drukjaar word die drukjaar alleen by die eerste aanhaling in die reeks vermeld, bv. Gen. 17:22, 1984; Eks. 9:12, 1 Tim. 3:5.
By aanhalings uit jaarlikse publikasies, soos jaarblaaie, jaarboeke, jaarverslae, of dergelike, word die jaartal(le) gegee waarop die betrokke uitgawe betrekking het, nie die werklike drukjaar nie. Geen jaartal(le) word by sulke bronne in die bronnelys vermeld nie.
Wanneer ’n aanhaling van een bladsy na die volgende oorloop, word in die reël alleen die bladsy waarop die lemma voorkom, aangegee.
By aanhalings uit Die Bybel, Die Berymde Psalms, Evangeliese Gesange, Die Halleluja en Skrifberyminge word die bladsy nie aangegee nie, alleen die betrokke vers.

Vindplek in bron
By die aangehaalde titel volg die gegewe of afgeleide bladsynommer, of kolomnommer waar dit die bladsynommer vervang, op die jaartal (of die aanduiding “s.j.”), of op die datum.

Plek(ke) van publikasie
In die bronnelys word alleen die eerste (of enigste) Suid-Afrikaanse en (of) buitelandse plek van publikasie vermeld in die taal en spelvorm waarin dit in die bron verskyn. By latere drukke (uitgawes) of by verskillende dele van ’n bron word die plek(ke) van publikasie alleen vermeld indien dit van die voorafgaande vermelde druk (uitgawe) of deel verskil.

Afkortings en verkortings
Redaksionele afkortings en verkortings wat nie in die bronnelys verklaar word nie, is opgeneem in die Afkortingslys.

Bronnelys

Klik hier om die bronnelys af te laai.