A

artikel Eenheid in ’n woordeboek wat deur die lemma ingelui en net voor die volgende bewerkte lemma afgesluit word, en waarin inligting oor die betrokke lemma verstrek word.
artikelinskrywing Sien inskrywing.

B

betekenis Begrip wat ’n taalgemeenskap deur konvensie aan ’n leksikale item heg.
betekenisonderskeiding Enigeen van die onderling verwante betekenisse van ’n lemma.
betekenispresisering Aanduiding van die toepaslike betekenisonderskeiding en (of) bepaalde woordsoortelike funksie van ’n polisemiese woord (lemma met meer as een betekenisonderskeiding) of van die juiste homoniem in ’n verwysing.

D

definisie Verklaring van die betekenis van ’n lemma.

G

gemerkte lemma Meerwoordige lemma wat vanweë bepaalde morfologiese of semantiese redes nie in ’n uitdrukkingsrubriek aangebied kan word nie, en waarvan die eerste kernkomponent (sien hier) as soekwoord dien waaronder die betrokke lemma opgeneem word.
gespesialiseerde uitdrukking Woordgroep van vakkundige aard, of nievakkundige woordgroep wat as geheel ’n unieke letterlike betekenis het.

H

homograaf Leksikale item met presies dieselfde vorm (spelling) as ’n ander leksikale item, maar met ’n ander klempatroon (en ook betekenis), bv. 1swerfster Vroulike persoon wat swerf (SWERF 1 a – c) en 2swerfster Ster (STER 1 a i) wat nie deel van ’n sterrestelsel vorm nie of intergalakties beweeg. (Homograwe word soos homonieme gehanteer, sien onder).
homoniem Leksikale item met presies dieselfde vorm (spelling) en klempatroon as ’n ander leksikale item, maar waarvan die betekenis sodanig verskil dat die leksikale items tans as onverwant aan mekaar beskou word, ongeag hul herkoms. Sulke leksikale items word as aparte lemmas, elkeen na ’n verhewe syfer, gehanteer. Sien verder hier.

I

idiomatiese uitdrukking Vaste uitdrukking, bv. ’n gesegde, spreuk of spreekwoord, of vaste vergelyking.
inskrywing Enige inligting wat ’n onderskeibare komponent van ’n woordeboekartikel uitmaak en wat aangebied word op ’n plek in die artikel wat vir hierdie inligting bedoel is, bv. die lemma, die aanduiding van lettergrepe en klem, woordsoortaanduiding, morfologie, etimologie, betekenisnommer, definisie, sinonieme, antonieme en gebruiksvoorbeelde. Ook artikelinskrywing genoem.

K

kernkomponent Eerste komponent in ’n uitdrukking, gemerkte lemma of groepvoorsetsel wat ’n s.nw., b.nw. of selfstandige ww. is, of wat kenmerke daarvan vertoon.
kollokasie Voorbeeldmateriaal bestaande uit ’n kombinasie van leksikale items wat dikwels saam gebruik word, maar wat nie ’n vaste uitdrukking is nie.
kompositum (mv. komposita) Enige samevoeging, bv. ’n samestelling soos stadhuis, stuiklas en syfervak, of ’n samekoppeling soos suurvlak, swartvlieg en swakdraad.

L

leksikale item Enigeen van die woorde, woorddele of woordgroepe wat gesamentlik die woordeskat van ’n taal uitmaak.
lemma Enigeen van die leksikale items wat verklaard in die Woordeboek opgeneem, in vetdruk gegee en alfabeties gerangskik word. Onverklaarde samestellings en afleidings (deursigtige samestellings met en afleidings van ’n lemma) word afsonderlik gealfabetiseer en as inskrywings onder die betrokke lemma saamgegroepeer.
loopkop Enigeen van die verwysings wat boaan elke bladsy gegee word om aan te dui watter lemmas of genommerde betekenisonderskeidings van ’n bepaalde lemma op daardie bladsy behandel word.

P

poëem Voorbeeldmateriaal bestaande uit ’n sin of frase wat redaksioneel saamgestel word, wat gebruik word om die tipiese gebruiksmoontlikhede van ’n leksikale item te illustreer en wat so ver moontlik op werklike taalgebruik of aanhalings gebaseer is.

S

sinoniem Leksikale item waarvan die vorm en herkoms van ’n ander leksikale item verskil maar waarvan die betekenis in sy geheel of in bepaalde onderskeidings daarmee ooreenstem.
sinoniemdefinisie Sien sinoniemverwysing.
sinoniemvermelding Vermelding by ’n lemma of ’n gespesialiseerde uitdrukking van een of meer van sy gelykwaardige of ongelykwaardige sinonieme. Sien verder hier.
sinoniemverwysing Verwysing by ’n lemma of ’n gespesialiseerde uitdrukking na ’n sinoniem van daardie lemma of gespesialiseerde uitdrukking waaronder die definisie voorkom. In die leksikografieteorie word dit as ’n soort definisie beskou en daarom word dit ook “sinoniemdefinisie” genoem, maar dit word hier bloot gesien as ’n verwysing na ’n sinoniem waar die definisie gegee word. Sulke definisies of verwysings, soos ook wisselvormverwysings na “Sien”, word in kleinhoofletters aangebied. Sien verder hier.
sitaat Voorbeeldmateriaal uit ’n geskrewe bron aangehaal.
soekwoord Woord in ’n uitdrukking, die eerste s.nw., b.nw. of selfstandige ww. naas die kernkomponent, wat in vetdruk en gevolg deur ’n dubbelpunt vooraan die uitdrukking gegee word ten einde die woordeboekgebruiker te help om hierdie uitdrukking makliker tussen ander uitdrukkings in die rubriek UITDR. te vind. Sulke woorde word alfabeties gehanteer in uitdrukkingsrubrieke. Gemerkte lemmas (waaronder inbegrepe groepvoorsetsels en naamwoordgroepe) (sien hier) werk ook volgens die beginsel van ’n soekwoord.

V

vaste uitdrukking Uitdrukking waarvan die betekenis nie noodwendig afgelei kan word uit die som van die afsonderlike leksikale elemente waaruit dit saamgestel is nie.

W

wisselvorm Enigeen van twee of meer leksikale items wat nabye variante van mekaar is t.o.v. uitspraak en (of) skryfvorm, en wat dieselfde betekenis het.
wisselvormvermelding Vermelding by ’n lemma of ’n gespesialiseerde uitdrukking van een of meer gelykwaardige of ongelykwaardige wisselvorme van daardie lemma. Sien verder hier.
wisselvormverwysing Verwysing by ’n lemma na ’n wisselvorm van daardie lemma of uitdrukking waaronder die definisie voorkom. Sien verder hier.