Inleiding tot die letter T

1  Algemeen

1.1 Die letter T van die WAT

Die manuskrip van die letter T van die WAT is in 2022 voltooi en die redigering daarvan is in 2023 afgehandel. Die letter T is op 13 Oktober 2023 bekendgestel. Hierdie letter is binne twee jaar afgehandel volgens die doelwitte van die Tienjaarplan vir die vol­tooiing van die WAT aan die einde van 2028. Slegs vyf jaar van die Tienjaarplan bly dus oor.

Die aanstelling van twee redaksionele assistente is in 2023 goedgekeur sodat die momentum met die uitvoering van die Tienjaarplan behou kan word.

Vanaf die letter T is die WAT slegs aanlyn beskikbaar.  Die gedrukte WAT het gaandeweg verouderd geraak omdat dit nie deurlopend bygewerk kon word soos die Aanlyn WAT nie.  Dalende verkope van die gedrukte WAT, die groot drukkoste van ’n nuwe deel en die tydrowende aard van die voorbereiding van teks vir ’n gedrukte weergawe is verdere faktore wat bygedra het tot die besluit dat die WAT slegs aanlyn gepubliseer sal word.

1.2  Aanvulling en verbetering van die Aanlyn WAT

Die aanvulling en verbetering van die Aanlyn WAT vind deurlopend oor die hele spektrum van die alfabet plaas.  Ontbrekende nuwe woorde en uitdrukkings word opgeneem en artikels word gewysig om onder andere voorsiening te maak vir nuwe betekenisonderskeidings, die byvoeging van sinonieme en die bywerking en regstelling van kruisverwysings tussen die verskillende letters van die alfabet. Dit is egter nog geen omvattende herbewerking van die Aanlyn WAT nie en die groot herbewerking sal ná die voltooiing tot by Z plaasvind.

Die werk aan die Loodsprojek vir die Aanlyn WAT is in 2018 gestaak weens die implementering van die Tienjaarplan. Dit is gedoen om die vordering tot by Z te prioritiseer. Met die besluit wat geneem is dat die WAT nie meer in gedrukte formaat sal verskyn nie, is daar opnuut aandag aan die herontwerp van die Aanlyn WAT gegee. Die Aanlyn WAT is nou die WAT se vlagskipproduk en dit moet ’n produk wees wat gebruikersvriendelik is, wat kan voldoen aan die vereistes wat ons gebruikers en moderne tegnologie stel, en wat die nuutste tendense in die elektroniese leksikografie betrek. Derhalwe is die eerste fase van die herontwerp van die Aanlyn WAT, wat onder meer op die Loodsprojek geskoei is, in 2022 onderneem. Hierdie herontwerp behels onder andere opdatering van die styl en uitleg van die Aanlyn WAT, aanpassing van en stilistiese veranderinge aan die woordeboekdata en ’n verbeterde subskripsiemodel. Daar is beoog om die herontwerpte Aanlyn WAT in 2023 bekend te stel, maar weens die tegniese eise wat ’n omvattende woordeboek soos die WAT stel, moes dit noodgedwonge uitgestel word tot 2024.

1.3 Befondsing van die WAT

Danksy die finansiële ondersteuning van individue en instansies wat lief is vir Afrikaans, is die WAT ’n produk­tiewe en innoverende woordeboekeenheid. ’n Volledige lys gewaardeerde donateurs verskyn hier op die WAT se webblad, maar ons maak graag spesiale melding van die jaar­likse ondersteuning van ons ankerdonateurs Het Jan Marais Nationale Fonds, die Trust vir Afrikaanse Onderwys, Sanlam, die Univer­siteit Stellenbosch, die Nancy Steyn Trust en die Hiemstra Trust. Deelnemers aan die Borg ’n Woord-projek het oor die afgelope 13 jaar byna R4 miljoen bygedra tot die WAT-fondse. Borg ’n Woord het die verbeelding van Afrikaanssprekendes aangegryp en hulle opnuut bewus gemaak van die waarde van woorde. Verkope op Swart Vrydag en Kubermaandag is ’n verde­re bron van inkomste. Ons nooi graag almal wat lief is vir Afrikaans om betrokke te raak by die ontwikkeling, do­kumentering en bewaring van Afrikaans deur donateurs van die WAT te word, deel te neem aan Borg ’n Woord, of deur die WAT se produkte aan te koop.

1.4 Publikasies sedert 2021

Sedert die verskyning van deel XVI in 2021 het die volgende publikasies van die WAT die lig gesien:
Aanlyn WAT (SRP -SZONDI) in 2021;
Lexikos 31 – 32(1) vanaf 2021 tot 2022;
Lexikos 32(2) – Huldeblyk aan D.J. Prinsloo en Lexikos 32(3) – ’n Man met ’n Plan: Huldeblyk aan W.F. Botha in 2022; en
die letter T van die WAT in 2023.

1.5 Projekte

1.5.1  Variëteite van Afrikaans

Die variëteiteprojek van die WAT, wat reeds in 2020 begin het en as eerste fase op woorde en uitdrukkings in Kaapse Afrikaans gefokus het, het ten doel om die Afrikaanse woordeskat in sy wydste omvang op te teken en in die WAT te weerspieël. Dit beteken dat nie net Standaardafrikaans nie, maar ook die ander varië­teite van Afrikaans ’n tuiste in die WAT vind. Met behulp van medewerkers het die WAT besluit om sy opname van Kaapse Afrikaans oor die hele spektrum van die alfabet te hersien. Die projek vir Kaapse Afrikaans is voltooi van A tot Z. Gevolglik sal Kaapse Afrikaans regdeur die hele Aanlyn WAT ’n groter verteenwoordiging hê.

1.5.2  Digitale korpus

Die WAT bou sedert 2020 deurlopend aan ’n uitgebreide digitale korpus van Afrikaanse bronne soos boeke, akademiese tydskrifte, tesisse, tydskrifte en nuusblaaie wat gratis aanlyn beskikbaar is. Die tlCorpus-korpussagteware word gebruik om sitate volgens soekwoord uit dié versameling te onttrek. In aansluiting by die digitale korpus, word die digitalisering van die WAT-biblioteek tans ondersoek. Alhoewel die hoofdoel van die projek is om die risiko rondom potensiële brandskade te verminder, sal die digitalisering ook dié waardevolle versameling bronne ten volle vir manuskripontwikkeling ontsluit.

1.6 Bystand vir die publikasie van die letter T

Die bystand van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad en die Universiteit Stellenbosch met die produksie van die letter T word ook hiermee erken.

2  Voltooiing van die letter U van die WAT

Die eerste bewerking van die manuskrip van die letter U is reeds volgens beplanning in 2023 voltooi.  Die redigering daarvan sal in 2024 afgehandel word, waarna die letter U in Oktober 2024 bekendgestel en aanlyn gepubliseer sal word.

Personeel 2021 – 2023

2.1  Redaksie
DR. W.F. BOTHA het op 31 Desember 2022 as Hoofredakteur en Uitvoerende Direkteur afgetree.
DR. P.A. LOUW het dr. Botha op 1 Januarie 2023 as Hoofredakteur en Uitvoerende Direkteur opgevolg.
DR. F.J. LOMBARD het op 31 Oktober 2023 as Eindredakteur afgetree.
MNR. D. HESS is vanaf 1 Julie 2023 as redaksionele assistent aangestel.
ME. P. MANEWIL is vanaf 1 Julie 2023 as redaksionele assistent aangestel.

2.2  Administratiewe Steundiens
MEV. S. VIVIERS, wat vanaf 1 Januarie 2018 as Kantoorbestuurder aangestel was, is op 18 Desember 2021 oorlede.
MEV. L. ROOS, wat vanaf 1 Junie 2022 as Kantoorbestuurder aangestel was, het op 31 Maart 2023 uit diens van die WAT getree.
ME. M. SNYMAN is vanaf 1 Augustus 2023 as Kantoorbestuurder en Finansiële Beampte aangestel.