Die WAT is een van die kosbaarste diamante van Afrikaans

T.T.Cloete
(5 September 2008)

Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) is ’n omvattende sinchroniese verklarende woordeboek, d.w.s. primêr gerig op die huidige taalgebruik. So ’n woordeboek moet op ’n omvattende manier verslag doen van die woordeskat van Afrikaans. Die omvattendheid van die WAT lê op drie vlakke: die opname van die Afrikaanse woordeskat in sy wydste omvang, die groot verskeidenheid tipes inligting wat in die bewerking aangebied word asook die omvang van die bewerking.

Die keuse en aanbieding van data in ’n omvattende woordeboek is die gevolg van indringende navorsing oor die taal wat in die woordeboek behandel word. Dit is ’n akademiese woordeboek wat op so ’n manier saamgestel moet word dat dit as ’n gesaghebbende naslaanbron deur taalkundiges, ander navorsers en liefhebbers van Afrikaans gebruik kan word.

Die leksikografiese proses wat tot die publikasie van ’n omvattende woordeboek lei, voorvereis navorsing deur die leksikograwe en dus ’n vertroudheid met sowel die woordeboekteorie as die taalkunde asook die vermoë om navorsing te kan doen wat in terme van die eise van die praktyk aangebied kan word. Die werk aan die WAT is ’n wetenskaplike praktyk wat lei tot die publikasie van ’n woordeboek wat as ’n belangwekkende opleidings-, navorsings- en onderriginstrument gebruik kan word.