• 04/04/2024

Engelssprekende wen WAT se Borg ’n Woord-Sanlamprys van R25 000

Natalie Williams, ’n Engelssprekende van Durbanville, is met ’n gelukkige trekking aangewys as die 2024-wenner van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal se Borg ’n Woord-Sanlamprys van R25 000. Die trekking is onlangs deur die WAT-direksievoorsitter prof. Hester Klopper en dr. Phillip Louw, hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die WAT, behartig.

Williams het besluit om ’n woord te borg toe sy op KFM hoor van Esthe Pretorius en Michelle Burger wat die woord kant vir die Springbok-haker Bongi Mbonambi geborg het. Dié borgskap was na aanleiding van die kontroversie wat Mbonambi se gebruik van “wit kant” in ’n rugbywedstryd teen Engeland ontlok het. “Ek het gedink dit was baie slim en was sommer trots op ons Afrikaanse grapperigheid. Ek het gaan kyk op die WAT se webwerf en net daar en dan een van my eerste gunstelingwoorde in Afrikaans – fopspeen – geborg,” vertel Williams. Sy het die eerste keer in graad 4 se Afrikaansklas met dié woord kennis gemaak: “My Afrikaansonderwyser het vir ons woorde gegee wat nie regtig meer gebruik word nie, en fopspeen was een van hulle. Ons het so gelag in die klas, want vir Engelse mense is dit ’n snaakse woord.” Van haar ander gunstelingwoorde in Afrikaans sluit in: bangbroek, skollie, vark, mieliepit en vlinderpapie.

Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal se Borg ’n Woord-projek bestaan sedert 2010. Dit is nie alleen ’n belangrike fondsinsameling vir die WAT nie, maar skep ook ’n bewustheid van die waarde van woorde en van die kleurrykheid, omvang en veelseggendheid van Afrikaans by die breër publiek.

Almal wat woorde borg of koop, kom in aanmerking vir die jaarlikse Borg ’n Woord-Sanlamprys van R25 000. Volgens Phillip Louw is die jarelange vennootskap met Sanlam van groot waarde vir die WAT: “Dit is ’n groot voorreg om Sanlam as getroue ankerdonateur te hê, en hulle bydraes speel ’n belangrike rol in die tienjaarplan om die WAT voor die einde van die dekade tot by Z te voltooi.”

Woorde kan teen R100 per woord geborg word, en elke deelnemer ontvang ’n sertifikaat en ses maande se toegang tot die Aanlyn WAT. Jy kan ook ’n woord eksklusief koop teen R5 000, wat beteken dat niemand anders weer hierdie woord kan borg of koop nie. Naas die sertifikaat en toegang tot die Aanlyn WAT, kwalifiseer hierdie skenkings ook vir ’n Artikel 18A-belastingsertifikaat.

Indien jy ’n woord wil borg of koop, gaan na Borg ’n Woord.

Deel op Sosiale Media