• 04/12/2023

Frazer Barry, beskermpersoon van die WAT se Borg ’n Woord-projek

Die rymkletser, musikant, akteur en televisiepersoonlikheid Frazer Barry is reeds vir meer as 20 jaar op verskillende wyses betrokke in die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf. Hy is die voorsanger van die gewilde groep Tribal Echo en is bekroon met verskeie toekennings vir musiekproduksies. Hy het as akteur in die internasionale verhoogproduksie Krotoa: Eva van de Kaap opgetree en doen klankontwerp vir verskeie projekte. Hy is verder betrokke by die ontwikkeling van jong kunstenaars en help opkomende rymkletsers om hul stem te vind. Frazer is ook ’n bekende gesig op televisie, onder meer as aanbieder van die feesprogram Fiësta en Ommighellie, ’n storievertelprogram waarin hulle dwarsdeur die land reis om Afrikaanse mense se stories te versamel.

Frazer Barry se liefde vir Afrikaans is aansteeklik. “Afrikaans bars deur my long! Dit dans op my tong! Slaan lettergrepe in my mond voordat dit land op jou oordrom. Hoe lekker is dit nie om die taal te praat en te hoor nie!” Hy beskou dit as ’n wonderlike voorreg om die beskermpersoon van die WAT se Borg ’n Woord-projek te wees, aangesien die WAT Afrikaans in sy wydse omvang dokumenteer. “Alhoewel dit belangrik is om die taal te praat, is dit net so belangrik om die taal te ontwikkel en te dokumenteer. Jy kan ook betrokke raak deur een van jou gunstelingwoorde te borg of te koop.”

Klik hier om ’n woord te borg of te koop. Deur ’n woord te borg of te koop werk jy mee aan die dokumentering van die Afrikaanse taal in sy wydste omvang in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.

Deel op Sosiale Media