• 08/10/2021

Marinda Engelbrecht van Maklik met Marinda

Marinda Engelbrecht van Maklik met Marinda-faam het op 31 Augustus 2018 by die Woordeboek van die Afrikaanse Taal se Woordpret opgetree. Dit was ’n prettige belewenis: Marinda is nie net ’n koskenner nie, maar ook ’n woordkunstenaar. Die kookdemonstrasie is voorafgegaan deur ’n prikkelende aanbieding oor Afrikaans deurspek met humor.

Die resep vir die maklike en heerlike tamatiesop wat sy tydens die demontrasie vir die gaste gemaak het:

Bestanddele:
1 ui, gesny
2 knoffeltoontjies
olie
2 blikkies kersietamaties
1 blik tamatiepuree
750 ml groente-aftreksel
5 ml gerookte paprika
10 ml komyn
10 ml suiker
250 ml room
sout en peper na smaak

Metode:
Braai die uie in ’n bietjie olie tot glaserig.
Voeg die knoffel en komyn by en braai liggies.
Voeg die res van die bestanddele (behalwe die room) by.
Kook vir 6 minute.
Proe en voeg die geurmiddels na smaak by.
Maak fyn met ’n staafmenger.
Voeg die room by en laat die sop lekker warm word.
Dien op met ’n vars basiliekruidblaartjie of skeppie basiliekruidpesto.

Deel op Sosiale Media