
Nuutskeppingskompetisie 2026

Die WAT se jaarlikse Nuutskeppingskompetisie vind vanjaar weer tydens die Toyota Stellenbosch Woordfees in samewerking met Spektrum op RSG en die ATKV plaas.
Die algehele wenner in die 2025-kompetisie was “skermpatat” vir die Engelse couch potato, ingestuur deur Andreas Both. In 2024 het François du Toit met die louere weggestap met “hondtrovert”, terwyl “braaikoebaai”, ingeskryf deur Jacques Boshoff, in 2023 die algehele wenner was.
Die nuutskeppings moet verkieslik woorde wees wat ’n nuwe verskynsel op ’n treffende manier beskryf of wat ’n alternatief vir ontoereikende bestaande woorde bied. Dit moet dus ’n voorstel vir ’n woord wees waaraan daar ’n behoefte in Afrikaans is. Die nuutskeppings hoef nie te rym of te allitereer nie. Jy is ook welkom om ’n nuwe uitdrukking of spreekwoord in te stuur as jou nuutskepping.
Jy kan nou reeds jou inskrywings stuur aan wat@sun.ac.za, met “Nuutskepping” in die onderwerpveld. Inskrywings vir vanjaar se kompetisie sluit op Dinsdag 6 Oktober om 14:00.
Vanaf Maandag 5 Oktober sal daar elke dag in Spektrum aangekondig word vir watter drie inskrywings gestem kan word, ten einde die drie dagwenners en algehele wenner te bepaal. Die algehele wenner word op Vrydag 9 Oktober op Spektrum aangekondig.
Die ATKV is weer die borg van ’n R500-kontantprys vir elk van die dagwenners en vier nagte in ’n ATKV-oord vir die algehele wenner. Vanjaar se dagwenners wen ook elk ’n kopie van Jana Luther se WAT-eeufeesboek En nog WAT.
Stuur jou nuutskeppings NOU na wat@sun.ac.za!