• 07/05/2025

Phillip Louw — kort biografie

Phillip Louw het ’n DLitt in Leksikografie (met die fokus op skoolwoordeboeke) aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Hy het sy loopbaan as deeltydse dosent in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die US begin, waarna hy by die Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal aangesluit het. Ná sewe jaar as mederedakteur van die WAT, het hy in 2005 as senior redakteur by Oxford University Press Southern Africa aangesluit. Sy eerste projek as redakteur vir OUP, die Oxford Afrikaans-Engels / English-Afrikaans Skoolwoordeboek / School Dictionary, het die ATKV-Woordwystoekenning in 2008 ontvang. Hy was ook die hoofredakteur van die eentalige Oxford Afrikaanse Skoolwoordeboek wat in 2012 verskyn het. Tot Desember 2022 dien hy as Uitgewersbestuurder: woordeboeke en letterkunde by OUPSA, met ’n bykomende ondersteuningsrol vir die res van Afrika, Indië en Australië. In Januarie 2023 hervat hy sy loopbaan by die WAT deur as hoofredakteur en uitvoerende direkteur in diens te tree.

Vanaf 2013 tot 2019 was hy ’n lid van die Afrikaanse Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en het meegewerk aan die elfde uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls. Sedert 2019 dien hy as bestuurslid van die African Association for Lexicography (AFRILEX) en sedert 2024 is hy ’n navorsingsgenoot aan die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands.

Deel op Sosiale Media