• 25/07/2023

Die Afrikaanse Wikipedia Skryfkompetisie vir hoërskole 2023

Die Afrikaanse Wikipedia soek jong Wikipediane om artikels te skryf op die vrye aanlyn ensiklopedie in Afrikaans! Hierdie nasionale kompetisie vir hoërskoolleerders in graad 8 tot graad 12 is die eerste van sy soort vir die Wikipedia wêreldwyd en met lekker groot pryse op die spel. Eerste plek kry ’n R10 000-kontantprys, 2de plek R6 000 en 3de plek R3000! Boonop gaan die wenners by Pretoria FM kuier op ’n vakansie en die wenskool kry ’n gebruikerslisensie vir die Aanlyn WAT.

Die kompetisie is op hoërskole gemik om leerders en onderwysers die geleentheid te gee om nie net die Afrikaanse Wikipedia met vertroue as ’n studiehulpbron te gebruik nie, maar om jongmense die geleentheid te gee om te leer hoe om artikels te skryf en te skep op die vrye aanlyn ensiklopedie en dít op Afrikaans.

Deon Steyn, direkteur van die Afrikaanse Wikipedia vertel dat Wikipedia gebore is uit Jimmy Wales se visie om vir elke persoon vrye toegang te gee tot alle menslike kennis. Hy verduidelik dat ‘‘vandag se jongmense nie kan wag om gesê te word wat om te leer, of hoe en wanneer om te leer nie. As ons jongmense slaggereed wil wees vir die toekoms in hierdie moderne era van digitale tegnologie en kunsmatige intelligensie sal hulle seker maak dat hulle die hele tyd iets nuuts leer en om iets nuuts te kan doen om nuwe vaardighede aan te leer.’’

Dít is dan juis wat die Afrikaanse Wikipedia Skryfkompetisie ook doen. Leerders wat inskryf gaan besluit op interessante niefiksieonderwerpe om oor navorsing te doen en daaroor skryf en dan ’n artikel op die aanlyn ensiklopedie skep om te kwalifiseer vir die kompetisie. Boonop gaan die Afrikaanse Wikipedia-span deelnemers touwys maak oor hoe ’n mens ’n artikel skep op die platform. Verder gaan die span by die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en FEDSAS help met enige taalnavrae deur die loop van die kompetisie.

Datums:

    1. Sluitingsdatum vir registrasie: 24 Augustus 2023
      o Enige Suid-Afrikaanse hoërskool kan inskryf –op hul eie of as ’n skoolspan.
      o Vind die reëls en riglyne en die aanlyn inskrywingsvorm: https://www.akademie.co.za/projekte/afrikaanse-wikipedia
    2. Afsnydatum vir artikels: 19 Oktober 2023

Die Afrikaanse Wikipedia Skryfkompetisie vir hoërskole word aangebied in samewerking met Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en word ondersteun deur Pretoria FM , die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) en Die Federasie van Beheerliggame van Suid Afrikaanse Skole (FEDSAS).

Rig navrae aan Sanita Meyer by sanita@akademie.co.za

       

Deel op Sosiale Media