• 23/03/2022

Die Matie: WAT sê “awê” aan nuwe woorde

Klik hier om die oorspronklike artikel te lees.

DIE WOORDEBOEK van die Afrikaanse Taal (WAT) het onlangs nuwe woorde tot hulle aanlyn weergawe van die woordeboek bygevoeg. Foto: Karla van der Merwe

WAT sê ‘awê’ aan Nuwe Woorde

DEUR MARYNA ADSHADE

Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) het onlangs 21 woorde opgeneem en amptelik tot Afrikaans bygevoeg. Dit sluit woorde vanuit verskillende variëteite en gebruiksfere van Afrikaans in, soos doef-doef-musiek en hommeltuig (oftewel ’n drone in Engels).

Volgens dr Willem Botha, hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die WAT, behels die rol van die WAT om Afrikaans in sy wydste omvang vas te vang. “Dit beteken dat nie net Standaardafrikaans nie, maar ook die ander variëteite soos Kaaps en Namakwalands ’n tuiste in die WAT vind. Ook geselstaal, streektaal en ­uitdrukkings word in die WAT opgeneem,” het hy verduidelik.

Hierdie insluiting van verskillende variëteite en kulture se woorde is duidelik in van die woorde wat nou opgeneem is, soos awê (of aweh), sjoekran en chakalaka.

Verder dui van die woorde op die invloed van die COVID-19-pandemie op Afrikaans. Volgens dr Gerda Odendaal, mederedakteur van die WAT, het dié internasionale gebeurtenis “noodgedwonge ook ’n invloed op Afrikaans gehad”. Sy het gesê: “En omdat ons die taalgebruik van die sprekers van Afrikaans in die WAT weerspieël, het ons byvoorbeeld woorde en uitdrukkings soos Covid, Covid-19 en koronavirus (tesame met dié woorde se talle samestellings), grendeltyd, en ’n staat van inperking in die woordeboek opgeneem.”

Daar is egter ’n paar kreatiewe en prettige woorde ingesluit, soos nylonkoffie (oftewel kitskoffie), aaptwak en oogpoeding (vir die Engelse eye candy). Buiten vir hierdie nuwe lys woorde, getuig van die vorige nuwe woorde ook van kreatiwiteit. “Ek hou baie van sloertoer wat een van die wenners was in ons jaarlikse Nuutskeppingskompetisie. Dit sê vir my meer as die [Engelse] road trip en die woord is besig om gewild te word onder die sprekers en is reeds in die WAT opgeneem,” het Botha gesê.

Soos Botha, voel sommige ander ook asof die Afrikaanse ­ekwivalente vir sommige ­woorde meer beskrywend is as die ­Engelse weergawes, met Símone ­Strümpher, ’n HonsBA (Afrikaans en Nederlands)-student, wat een van diegene is.

“Ek hou so baie van die woord grendeltyd. Dit is vir my uniek dat iemand besluit het ons moet ook kan kla oor lockdown in ons taal,” het Strümpher gesê. “Grendeltyd klink sommer soos ’n sukkeltyd, ’n moeilike tyd. ’n Beter woord om hierdie pandemie in ’n boksie te sit, is daar beslis nie.”

Strümpher het bygevoeg dat sy trots is om te sien dat daar nog woorde tot die amptelike Afrikaanse woordeskat gevoeg word: “Ek kan nie genoeg kry van nuwe Afrikaanse woorde nie – met al die dinge wat aan die gang is rondom Afrikaans en hoe dit in hierdie problematiese lig gestel word, is dit vir my die lekkerste nuus om te hoor dat ons woordeskat vergroot word. Dit maak my trots om dit te sien, want hoekom sal hulle nuwe woorde maak vir ’n taal wat glo sal uitsterf?”

Odendaal het hierby aangesluit, maar het gemeen Afrikaans is uniek omdat dit die gees van ubuntu weerspieël. “Afrikaans het naamlik tot stand gekom in ’n konteks waar mense van Afrika, Europa en Asië met mekaar in kontak was en ’n gemeenskaplike kommunikasiemedium moes vind. Ek beskou Afrikaans dus as ’n brugbouer tussen mense van verskillende kulture, gelowe en rasse. Want of jy nou awê, dagsê, hallo, hosh, jis, salute of salaam aleikoem sê, dit is alles Afrikaans!”

Diegene wat graag hulle woordeskat wil uitbrei, kan die afdeling “WAT in die media” op die WAT se webwerf raadpleeg om ’n lys van die nuwe woorde te sien, of kan verder lees vir van die ander inskrywings vir die Nuutskeppingskompetisie.

Deel op Sosiale Media