katel & kooi
katel s.nw., katels; kateltjie.
Bed, veral ’n eenvoudige ysterbedjie.
Via die Ndl. seemanstaal uit Maleis katil “bed”. Volgens Mansvelt (1884) reeds in vroeë Afr. in 1711 opgeteken in die vorm kadel in die notule van die Heemrade in die argiewe van Stellenbosch.
kooi I s.nw., kooie; kooitjie.
Lê- of slaapplek, veral ’n bed: In die kooi klim, kruip, lê. ’n Kind in die kooi sit. ’n Kooi opmaak, op die vloer maak. Kooi, die goeie ou seemanswoord … is nou vinnig aan die wyk voor die Afr.-Ndl./Eng. bed; hy is glo nie meer deftig genoeg nie (H.J.J.M. v.d. Merwe: Woord5, 1967, 99).