• 16/08/2019

Deel XV van die WAT is beskikbaar en die Aanlyn WAT is bygewerk en verbeter

Deel XV strek alfabeties van SKOOL tot by SRI LANKAANS en op ’n enkele bladsy kry u sulke prikkelende lekkerkrywoorde soos snoesel, snoeshaan, snoetbus, snoewery en snol. Deel XV bevat ook ’n Addendum met bykans 1 000 nuwe woorde van A tot S. Die Addendum gee aan ons ’n idee wat sedert die publikasie van elke deel in Afrikaans gebeur het, beginnende by deel I in 1951. Aanlyn en amabokoboko was nog nie ’n vonkel in Afrikaans se oog in 1951 nie, ook nie banting, beurtkrag en CD nie. Gay, geelkaart, geheuestokkie, gemorskos, glasnost, google en hardeskyf was destyds nie eens ’n hersenskim nie.

Die Aanlyn WAT is nou ook bygewerk tot by SRI LANKAANS en aangevul met nuwe woorde van A tot S. Net soos in die geval van die Addendum van deel XV is die aanvulling nie uitputtend nie. Die redaksie het bloot die werk aan die letter S vir ses maande onderbreek om die WAT met nuwe woorde en nuwe betekenisse van reeds opgeneemde woorde van A tot S aan te vul.

Klik hier om deel XV van die WAT of enige van ons ander produkte te bestel. Alle produkte kan ook kontant by die WAT in Banghoekweg 115, Stellenbosch gekoop word of afgehaal word nadat u ’n elektroniese betaling gedoen het.

Deel op Sosiale Media