• 04/10/2022

Nuwe Hoofredakteur en Uitvoerende Direkteur vir die WAT

Dr. Phillip Louw is met ingang 1 Januarie 2023 aangestel as die nuwe Hoofredakteur en Uitvoerende Direkteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Hier onder volg ’n kort biografie van dr. Louw:

Dr. Phillip Louw het ’n D.Litt. in Leksikografie (met ’n fokus op skoolwoordeboeke) aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Hy het sy loopbaan as deeltydse dosent in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die US begin, waarna hy na die Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal getrek het. Na sewe jaar as mederedakteur by die WAT, het hy in 2005 as senior redakteur by Oxford University Press Southern Africa aangesluit. Sy eerste projek as redakteur vir OUP, die Oxford Afrikaans-Engels English-Afrikaans Skoolwoordeboek School Dictionary, het die ATKV-Woordwystoekenning in 2008 ontvang. Hy was ook die hoofredakteur van die eentalige Oxford Afrikaanse Skoolwoordeboek wat in 2012 verskyn het. Tot Desember 2022 dien hy as “Uitgewersbestuurder: woordeboeke en letterkunde” by OUPSA, met ’n bykomende ondersteuningsrol vir die res van Afrika en Australië.

Vanaf 2013 tot 2019 was hy lid van die Afrikaanse Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en het meegewerk aan die 11de uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls. Sedert 2019 dien hy as bestuurslid van die African Association for Lexicography (AFRILEX) en ook op die wetenskaplike komitee van die European Association for Lexicography (EURALEX) vir 2020-21. In 2022 was hy die medevoorsitter van die OED se Oxford World English Symposium.

Buite werksverband lees hy graag wetenskapfiksie, grafiese romans, krimi’s, en enige literatuur oor outisme. Sy gunstelingskrywers is Neil Gaiman en Deon Meyer, en hy kyk graag na enigiets wat Joss Whedon op die skerm sit. Hy is ook ’n onwrikbare Blou Bul-ondersteuner. Sy grootste uitdaging in die lewe is om sy outistiese seun te help en om hom beter te verstaan.

Deel op Sosiale Media