• 09/06/2023

Phillip Louw, hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die WAT: ’n onderhoud

Phillip Louw (foto: Naomi Bruwer)

Phillip Louw, sedert Januarie 2023 hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die WAT, praat met Naomi Meyer oor sy loopbaan tussen woorde en die afgelope ses maande by die aanlyn woordeboek.

Phillip, ’n halwe jaar is nou verby vandat jy hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die WAT geword het. Op 22 Januarie se Taaldinge op RSG het jy met Ina Strydom oor jou visie vir die WAT gesels.

Jy het genoem jy is ’n toevallige woordeboekmaker. Eers was jy ’n tyd lank betrokke by die WAT en daarna, voordat jy teruggekeer het, het jy woordeboeke uitgegee. Jy noem uitdagings wat jy in die onderwysstelsel en die maak van woordeboeke vir kinders raakgesien het. Wil jy dalk hierop uitbrei?

Dankie Naomi. Ja, die opmerking oor die toeval verwys eintlik maar daarna dat ek beplan het om onderwyser te word en toe myself in hierdie heel ander rigting bevind het deur ’n sameloop van omstandighede. My tyd by OUP (Oxford University Press), waar ek meesal aan skoolwoordeboeke gewerk het, was dus eintlik ’n mooi manier om my beplande en uiteindelike loopbane met mekaar te versoen. Maar dit was ook ’n ontsettend harde en by tye ontmoedigende leerskool. Mens is ook daagliks met die inherente ongelykhede in ons samelewing en die uiterse disfunksionaliteit en pligsversaking in ons regering se benadering tot basiese onderrig gekonfronteer. Die WAT, daarenteen, is ’n heel ander wêreld – ’n baken van wat ’n taalgemeenskap kan bereik as die taal vir hulle belangrik is en mense gewillig is om hulle taal met meer as net lippetaal te ondersteun.

Jy noem ’n siklus van armoede – van woorde. Om iets te doen vir alle taalgemeenskappe in Suid-Afrika. Waarom is dit belangrik om ’n ryk woordeskat te hê, om diepte te hê in ’n taal en om oor verskillende woorde met verskillende nuanses te beskik om ’n situasie of ’n gevoel te kan weergee?

Nee, my opmerkings oor armoede was baie meer basies en funksioneel. Die siklus van armoede waarna ek verwys het, word voortgesit omdat ons onderwysstelsel ons armer gemeenskappe in die steek laat. Oor die algemeen navigeer ryk en middelklas kinders (tensy hulle ander bepaalde uitdagings het) met relatiewe gemak hierdie stelsel omdat hulle na skole gaan wat funksioneel is en hulle die hulpbronne het om die swakhede in die stelsel te oorkom. Maar die werklikheid lyk heeltemal anders as jy ’n arm kind is wat nie daardie voorregte geniet nie.

………..
Die siklus van armoede waarna ek verwys het, word voortgesit omdat ons onderwysstelsel ons armer gemeenskappe in die steek laat. Oor die algemeen navigeer ryk en middelklas kinders (tensy hulle ander bepaalde uitdagings het) met relatiewe gemak hierdie stelsel omdat hulle na skole gaan wat funksioneel is en hulle die hulpbronne het om die swakhede in die stelsel te oorkom. Maar die werklikheid lyk heeltemal anders as jy ’n arm kind is wat nie daardie voorregte geniet nie.
…………

Daarom die groot getalle kinders wat uitsak sonder kwalifikasies en dan eenvoudig weer bydra tot die haglike maatskaplike omstandighede in hulle gemeenskappe. Ongelukkig speel geletterdheid en taal ’n groot rol in hierdie benarde situasie.

Jy praat in daardie destydse onderhoud van kinders wat nie kan lees nie en nie met begrip lees nie. Hierdie onderwerp is nou weer in die nuus. Jy praat van die belang van moedertaalonderrig. Nou wil ek jou vra: Hoe gemaak, waar lees inderwaarheid in die ouerhuis gevestig moet word, maar ouers het dalk nie geld vir brood nie, wat nog te sê boeke?

Dis nou waar ek wil aanhaak aan my vorige punt. Maar net eers ’n voorbehoud: Ek beskryf een deeltjie van die probleem soos ek dit ervaar het, maar dis nog meer teleurstellend as jy besef daar is soveel ander stelselswakpunte ook. Maar goed, my siening van hoe probleme met lees en leesbegrip op ons samelewing inspeel: Dis eerstens belangrik om te besef dat die idee van lees wat in die ouerhuis gevestig moet word, inderdaad onrealisties is vir die grootste gros van ons landgenote (soos jy tereg impliseer). Tweedens moet mens besef dat die meerderheid Suid-Afrikaners in gemeenskappe grootword waar bitter min Engels gepraat (wat nog gelees) word en waar boeke in hulle moedertale ook so skaars soos hoendertande is. Van hierdie kinders word dan verwag om binne die bestek van die paar jaar van Grondslagfase van ’n nulpunt af in hulle eie taal te leer lees en dan ook nog Engels aan te leer sodat hulle van graad 4 af in Engels onderrig kan ontvang vir al hulle ander vakke. Dan moet mens nog byvoeg dat die meeste skole waarheen hulle gaan, disfunksioneel is en dat daar nog nie werklik effektiewe leesaanleerstelsels vir hulle baie komplekse tale is nie – die Nguni-tale met hulle konjunktiewe ortografie verg byvoorbeeld ’n heel ander stelsel as Engels. Hierdie gebrek bestaan nie omdat die kundigheid nie daar is om daardie stelsels daar te stel of omdat konsepstelsels nie reeds beskikbaar is nie. Ook nie omdat die tale nie die woordeskat het of daar nie mense is wat die leesboeke en ander materiaal kan skep nie. Die probleem is hoofsaaklik die disfunksie en tweespalt binne die nasionale onderwysdepartement en tussen hulle en die provinsiale onderwysdepartemente. Dis ’n skande dat ons nog nie koherente, pasgemaakte leesplanne met bewese effektiewe uitkomste vir elke taalgemeenskap het nie. Die wrang vrugte sien mens dan ook: die uiters swak leesbegripvlakke in graad 4 vir kinders in hulle eie moedertaal, asook die stukkie wat dan baie keer vergeet word, naamlik dat daardie kinders (81% van hulle) dus ook zero kans gehad het om leesbegrip in Engels te bemeester en dus effektief ononderrigbaar in hulle ander vakke van graad 4 af is. Dit is dus geen verrassing dat so baie kinders op daardie punt moed opgee en uitsak uit ons onderwysstelsel nie. Ek haal my hoed werklik af vir die kinders wat deurworstel en die onderwysers wat ten spyte van al hierdie uitdagings soveel wonderwerke laat gebeur.

Op hierdie punt dink ek tog dit is belangrik dat ons as Afrikaanse taalgemeenskap moet besef hoe bevoorreg ons nog is dat kinders veel verder as graad 3 in Afrikaans kan skoolgaan, dat soveel van hulle in funksionele skole kan wees en dat hulle die tyd gegun word om behoorlik tweetalig te word. Die studies soos PIRLS wat nou in die nuus is, wys duidelik hoeveel beter hulle daaraan toe is as kinders uit ander taalgemeenskappe. Terselfdertyd moet ons nie dink daardie 81% wat sukkel, is nou maar nie ons probleem nie. Maatskaplike verval en die siklus van armoede raak ons almal – kyk maar net na die misdaadsyfer, protesaksies en onrus. Ons moet almal saam kwaad wees oor die skokkende onbeholpenheid van ons regering en almal saam druk uitoefen om die saak reg te stel.

…………
Terselfdertyd moet ons nie dink daardie 81% wat sukkel, is nou maar nie ons probleem nie. Maatskaplike verval en die siklus van armoede raak ons almal – kyk maar net na die misdaadsyfer, protesaksies en onrus. Ons moet almal saam kwaad wees oor die skokkende onbeholpenheid van ons regering en almal saam druk uitoefen om die saak reg te stel.
…………….

Maar dan moet ons ook weet waarvoor ons moet vra, nl: (1) daardie effektiewe leesaanleerstelsels vir elke taal; (2) genoegsame hulpbronne (soos woordeboeke en leesboeke) in elke klaskamer; (3) onderwysers wat behoorlik in leesonderrig opgelei is vir hulle spesifieke tale; (4) moedertaalonderrig in alle vakke tot ten minste graad 6 (’n Unesco-aanbeveling); en (5) ’n beter-verspreide en meer realistiese benadering tot die aanleer van Engels as tweede taal. Dis uiteraard nie die volle oplossing vir so ’n enorme en komplekse probleem nie, maar wel die legkaartstukke wat ek uit my ervaring by OUP kan aanbeveel.

Dis vir my opvallend dat jy baie oor skoolwoordeboeke praat en ek dink dis baie belangrik om hierdie agtergrond te hê en met daardie kundigheid en agtergrond by die WAT betrokke te wees. Wat is die doel van ’n volwassene-woordeboek – en spesifiek een soos die WAT?

Wel, dis baie belangrik om net eers duidelikheid oor die begrip volwassene-woordeboek te kry. Vir my dui dit op woordeboeke soos die HAT of die Concise Oxford English Dictionary, maw woordeboeke wat volwassenes help in hulle professionele omgang met die standaardvariëteit van die taal. Hulle is dus streng funksionele stukke gereedskap. Dit is nie wat omvattende woordeboeke soos die OED, WNT, of inderdaad ook die WAT se rol is nie. Ons is die boekstawers van die taal in sy volle omvang (of so vol as waarvoor ons bewyse kan vind). Ons kan wel praktiese raad oor bepaalde taalprobleme of die antwoorde op bepaalde taalvrae in ons woordeboekinskrywings bied, ja, maar in wese is ons, soos een van ons donateurs dit so mooi gestel het, die identiteitsdokument van die taal. Omdat taal so vloeibaar is en snel verander, is ons werk nooit voltooi nie en is die woordeboek nie ’n statiese dokument nie. Dit is vloeibaar, organies, amper ’n lewende, alomveranderende museum en argief van ons mooiste taal.

Jy praat oor hoe die WAT dit regkry om ’n taalgemeenskap te laat hande vat en ’n woordeskat uit te bou wat almal gebruik. Noudat jy ’n paar maande lank daar werk, wat het jy ondertussen ontdek?

Weet jy, die WAT se storie is só ’n suksesverhaal. Skenkers wat hulle beursies oopmaak, gewone mense wat woorde borg of koop en organisasies wat hande vat om saam te werk, is maar net ván die kenmerkende belewenisse in my eerste paar maande. Afrikaanssprekendes gee om vir hulle taal. Hulle wil dit beskerm en bewaar, maar ook geniet en uitleef. En my ervaring is dat hulle bykans intuïtief besef watter rol die WAT hierin kan speel. Hierdie gemeenskapsbetrokkenheid is nie ’n luukse wat enige van my kollegas by die ander tale se woordeboekeenhede beleef nie. Dis ook nie iets wat ons as vanselfsprekend moet aanvaar nie. Hierdie liefde vir die taal moet ons bly koester en aanwakker by ons kinders, en ons moet hulle reg om in Afrikaans onderrig te ontvang (ten minste op skoolvlak) beskerm. Dit is wat Afrikaans se lot gaan bepaal.

Hoe bevorder die WAT veeltaligheid in die land? Kan jy praktiese oplossings sien?

In terme van dit wat ons doen om veeltaligheid te bevorder: die Buro van die WAT het aansienlike bydraes gelewer met opleidingsprogramme in die praktiese leksikografie en die verskaffing van dienste om die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse leksikografie te bevorder. Die meeste van die leksikografie-eenhede se mense het opleiding by ons ontvang, asook Afrikataal-leksikograwe van so ver as Gaboen. ’n Besondere mylpaal was die stigting van die leksikografievaktydskrif Lexikos in 1991 deur die Buro van die WAT, wat ons steeds uitgee, wat die mondstuk van die African Association for Lexicography (Afrilex) is, en waarin artikels oor die optekening van (onder meer) al die tale van ons land verskyn. Deur die leksikografiese pogings van ons tale te ondersteun, ondersteun ons dus ook veeltaligheid. Maar buiten wat ons doen, dink ek ook dat wat ons bereik het met die WAT, die volksbesit wat dit geword het, kan dien as ’n inspirasie en mikpunt vir die ander taalgemeenskappe van Suid-Afrika.

Jy praat van die WAT as “’n gesaghebbende skatkamer van inklusiewe Afrikaans”. Wil jy uitbrei op hoe jy die verskillende registers van Afrikaans sien?

Dit sluit nou eintlik aan by die vorige punt oor omvattende woordeboeke se rol as boekstawers van die taal in sy volle omvang. Dit beteken eintlik dat ons benewens die standaardvariëteit van die taal dan ook woorde, uitdrukkings, ens uit byvoorbeeld geselstaal, streeksvariëteite, en ja, selfs vloektaal moet opneem. Maar dit beteken ook dat ons aan die ander kant van die spektrum terminologie uit die Afrikaanse vaktaal en universiteitstaal moet opneem waarvoor daar nie plek in ’n standaardwoordeboek is nie. Hierin word ons ondersteun deur ’n groot span vakkundige medewerkers wat help seker maak dat ons bondige maar korrekte beskrywings bied. Om saam te vat, die WAT is die plek waar enige mense wat Afrikaans praat of skryf, hulle taalgebruik geboekstaaf moet vind. Dit is natuurlik ’n enorme taak en ons moet deurentyd verseker dat ons genoeg materiaal versamel en met genoeg mense skakel en saamwerk om aan daardie mandaat te voldoen.

Wat was die lekkerste ontdekkings wat jy die afgelope tyd in jou werk by die WAT gemaak het?

Jy’t nou al seker agtergekom die belangrikste een is die taalpassie van die Afrikaanse taalgemeenskap! Dit sluit die mense wat ons ondersteun in – donateurs, kopers, woordborge, direkteure, trustees, personeel, beskermpersone, of sommer net mense wat belangstel in wat ons doen en geselsies wil aanknoop! Samuel Johnson het indertyd opgemerk: “Every other author may aspire to praise; the lexicographer can only hope to escape reproach, and even this negative recompense has been yet granted to very few.” Maar dit is werklik nie die geval by die WAT nie. Dit is ’n ondersteunende omgewing en die veelsydigheid, aanpasbaarheid en dienswilligheid van die personeel is ’n besondere hoogtepunt.

Wat was van jou grootste uitdagings?

Sjoe, as iemand wat uit ’n korporatiewe omgewing met groter en meer afgebakende administrasiespanne kom, was die niewinsgewende organisasie-omgewing nogal ’n skok vir my sisteem. Ek het glad nie besef hoe groot die adminlas vir die Buro van die WAT en die WAT Trust sou wees en hoe min hande (myne inkluis) soveel sou moes verrig om aan al die vereistes te voldoen nie. Ek het nuwe bewondering vir klein organisasies wat binne hierdie omgewing soveel fondse kan werf en goeie werk gedoen kry ten spyte van die enorme druk wat burokratiese rompslomp op hulle plaas. Op die operasionele front is ’n ander groot uitdaging dat die WAT nou nie voortaan meer gedruk sal word nie, maar slegs aanlyn sal voortleef. Dit is ’n besluit wat die direksie en my voorganger geneem het, en wat heeltemal sin maak gegewe die massiewe onkoste verbonde aan die set en druk van sulke nisprodukte en die mark daarvoor wat erg kwyn. Dit het wel bepaalde implikasies, byvoorbeeld vir die organisering en funksies van ons personeel, maar bied dan ook baie nuwe geleenthede. Baie kopkrap en flinkdink lê vir ons voor!

Kan ChatGPT dalk binnekort ’n redaksielid van die WAT word? Kunsmatige intelligensie is heeltemal anders as Google – dis ’n taalmodel. Sal so iets nie uiteindelik ’n gesaghebbende bron kan word of kan help met woordeboekmakery nie? Want die bots sal kan help om alle Afrikaans wat aanlyn beskikbaar is, uit te grawe. Of hoe?

Kort nadat ChatGPT die openbare verbeelding begin aangryp het, het die ontwikkelaars van elektroniese woordeboekskryfstelsels reeds begin woeker met “plug-ins” wat ChatGPT integreer. Dit is dus inderdaad ’n besonderse hulpmiddel. Meer so nog vir Engels as vir Afrikaans, maar gee kans – selfs in Afrikaans het dit al verbeter. Sal dit menslike leksikograwe vervang? Wel, dis ’n moeilike vraag om met enige sekerheid te beantwoord, gegewe hoe vinnig iets soos ChatGPT leer. Ek dink wel daar is sekere tipes woordeboeke, algemene woordeboeke, waarvoor ChatGPT reeds skaflike definisies kan skryf. Maar omvattende woordeboeke soos die OED, WNT en WAT word gemaak deur ’n ontsaglike rykdom van taalskatte – sommiges wel reeds op die internet, ander nie – te analiseer en op ’n kreatiewe en artisinale wyse in woordeboekinskrywings te omskep. Hierdie inskrywings gee gestalte aan gesproke en geskrewe taal, giet omvattende definisies in veelvuldige betekenisnuanses, bied voorbeelde wat sorgvuldig en volgens ’n magdom riglyne kollektief as die beste weerspieëlings van die woord se gebruik gekies is, onthul uitdrukkings wat die volle spektrum van Afrikaanssprekendes se taalkreatiwiteit ten toon stel en waarvan ’n bot moeilik sin sal maak, en so kan ek aangaan. Dit sal ’n hengse slim en kreatiewe bot moet wees wat sulke leksikograwe vervang! En dan haak ek steeds maar ook vas by die etiese aspek. Is dit reg dat iets soos ChatGPT vrye teuels gegee word en mense vervang? En sê nou maar die mensdom begin om soos in ’n wetenskapfiksieboek as die vyand beskou te word? Ek sal veel gemakliker en veiliger voel as daar dieselfde mate van beheer en wigte en teenwigte wat daar byvoorbeeld in die mediese wetenskap met kloning toegepas is, ingestel word om mense wat in die KI-veld werk, te reguleer.

 

Lees die oorspronlike artikel op LitNet hier.

Deel op Sosiale Media