Die elektroniese weergawe van die Etimologiewoordeboek van Afrikaans (EWA) op CD-ROM is in 2015 deur die Buro van die WAT bekend gestel en is ten opsigte van die inhoud daarvan ’n faksimilee-weergawe van die gedrukte EWA en EWA Supplement.

Met die EWA in elektroniese formaat het die gebruiker nou maklike toegang tot die etimologiese inligting wat daarin opgesluit lê. ’n Waardevolle bron van inligting kan met behulp van ’n effektiewe soekfasiliteit binne sekondes ontsluit word. Deur van die soekfasiliteit gebruik te maak, kan die gebruiker byvoorbeeld vasstel watter Afrikaanse woorde almal erfwoorde uit Nederlands is, watter Afrikaanse woorde aan Engels of die inheemse tale van Suid-Afrika ontleen is, watter woorde deur volksetimologie in Afrikaans ontstaan het, watter betekenisonderskeidings van bepaalde woorde in Afrikaans self ontwikkel het, wat die benoemingsmotief van ’n Afrikaanse woord is, of watter Afrikaanse woorde op hulle beurt deur ander tale ontleen is.

Die EWA op CD-ROM maak die ryk, multikulturele herkoms van Afrikaanse woorde nou toegankliker as wat dit ooit in die verlede was.