• 29/09/2023

tok

s.nw., toks of, geselstaal, tokse (gew. i.d. mv.). (wsk. <Eng. togs, “sportdrag”, “sportklere”)

Rugby- of sokkerstewel: Wag! ek wil net die veter van my tok vasmaak. ≈ Die Springbokke moes maar gedwee hul toks uittrek. Ná ’n ruk het hulle, uitgevat in hul kleurbaadjies, verslae op die veld uitgestap en gaan kyk na die modderkol wat deur die betogers en polisie se getrappery veroorsaak is (D. Retief in Taalg., Winter 2012, 46). Die aluminiumstuds onderaan die toks moes deeglik vasgedraai wees. Jy kon nie bekostig om die helfte van die wedstryd sonder ’n stud of twee rond te hardloop nie (T. Stofberg: Kantlyn, 2016, 75). Ons seuns het voor ons oë grootgeword, van outjies met speekbene tot bulletjies met stoppels op hulle wange. Nou dra hulle tokse so groot soos hansworsskoene en harde pantsergoeters onder hulle rugbytruie (Weg, Jan. 2009, 142).

Deel op Sosiale Media