• 11/08/2022

Vakante betrekking: Hoofredakteur en Uitvoerende Direkteur

Die Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), gesetel by die Universiteit Stellenbosch (US), is toonaangewend in die leksikografiese bedryf van Suid-Afrika. As toekomsgerigte organisasie is die Buro op soek na ’n Hoofredakteur wat strategiese bestuur en professionele begeleiding met leierskap kan verbind. Die pos behels die bestuur van drie oorhoofse funksies, naamlik dié van die Hoofredakteur van die WAT, Uitvoerende Direkteur van die Direksie van die WAT en Trustee van die WAT Trust.

Pligte: • Doeltreffende en effektiewe funksionering van die Buro van die WAT • Oorhoofse gehaltebeheer van die redaksionele bewerkingsproses, waaronder die samestelling, redigering, set-, druk- en bindwerk van elke deel in samewerking met die Eindredakteur • Die handhawing van ’n openbare beeld wat doelbereiking ondersteun • Doelgerigte bemarking van die WAT deur middel van referate, media-onderhoude, promosiegeleenthede, digitale en sosiale media, ensomeer • Nakoming van die statutêre verpligtinge van die WAT, waaronder die lewering van jaar- en kwartaalverslae aan onder meer die Pan-SuidAfrikaanse Taalraad en WAT-donateurs, asook die opstel van agendas vir direksie- en ledevergaderings van die WAT en WAT-Trustvergaderings • Realisering van strategiese doelwitte vervat in strategiese beplanning met gebruikmaking van die huidige Tienjaarplan vir die voltooiing van die WAT • Finansiële bestuur, waarby ingesluit die opstel van die jaarlikse begrotings vir die Buro van die WAT en die WAT-Trust • Bestuur van satellietpublikasies soos geïdentifiseer volgens die behoeftes van woordeboekgebruikers • Leiding in die publikasie van Lexikos, ’n geakkrediteerde internasionale aanlynvaktydskrif gepubliseer deur die WAT en amptelike mondstuk van Afrilex, die leksikografievereniging vir Afrika • Lewering van eie resensies, koerantrubrieke en artikels in leksikografiese vaktydskrifte • Skakeling en versterking van verhoudings met verskeie verbandhoudende professionele organisasies, waaronder die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans en die Wes-Kaapse Onderwysdepartement • Betrokkenheid by verskeie opleidingsgeleenthede wat die WAT in samewerking met, onder meer, die US se Departement Afrikaans en Nederlands aanbied.

Posvereistes: • ’n Gevorderde nagraadse kwalifikasie (verkieslik ’n doktorsgraad) • Afrikaanssprekend • Toepaslike ervaring in redaksionele bewerking • Vorige blootstelling aan ’n gerekenariseerde produksieproses • Ervaring in bestuursbeheer van ’n organisasie met meervoudige funksies (bv. verskillende departemente).

Aanbevelings: • Nagraadse kwalifikasie in Afrikaans of Afrikaans en Nederlands, Algemene Taalwetenskap, Kommunikasiekunde of Leksikografie, met Afrikaans of Afrikaans en Nederlands ten minste tot op derdejaarsvlak • Kennis van die redaksionele stelsel van ’n omvattende verklarende woordeboek • Kennis van die bestuur van ’n woordeboekeenheid • Goeie kennis van ’n ander Suid-Afrikaanse ampstaal as Afrikaans en Engels.

Diensaanvaardingsdatum: 1 November 2022

Sluitingsdatum: 19 Augustus 2022

Navrae: Prof. Hester C. Klopper (Voorsitter van die Raad van Direkteure, Kantoor van die Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake); skakel me. Hazel Alexander by 021 808 9704 of stuur ’n e-pos na halexander@sun.ac.za

 

Die Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal behou die reg voor om nie ’n aanstelling te maak nie.

U aansoek moet vergesel wees van ’n volledige curriculum vitae (insluitend die name en e-posadresse van ten minste drie referente), en moet die WAT voor of op die sluitingsdatum van die advertensie bereik.

Die WAT behou die reg voor om kwalifikasies na te gaan en agtergrondinligting oor alle kandidate in te win.

Indien u nie binne vier tot ses weke na die sluitingsdatum van hierdie advertensie van die WAT verneem nie, aanvaar asseblief dat u aansoek onsuksesvol was.

Deel op Sosiale Media