• 25/07/2023

WAT en ProVARIA bewaar die rykheid van Afrikaanse variëteite

Die Buro van die WAT het op 30 Junie en 1 Julie gasheer gespeel vir meer as twintig Afrikaanse taalkundiges van 14 universiteite en verskeie Afrikaanse taalorganisasies van regoor die land, insluitend die Afrikaanse Taalraad (ATR), die Taalkommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA). Hierdie byeenkoms, wat deur die ATR gefasiliteer is, het uitgeloop op die stigting van ProVARIA: die Projek oor Variasie in Afrikaans. Die doel van hierdie projek, waarin die WAT ’n belangrike medewerker en vennoot is, is enersyds “om navorsing oor die variëteite van Afrikaans beter te koördineer”, aldus prof. Wannie Carstens, buitengewone professor aan die NWU, navorsingsgenoot van die Afrikaanse Taalraad (ATR) en direkteur van die WAT. Voorts het dit ten doel om ’n beeld te gee van die rykheid en gelykwaardigheid van al Afrikaans se variëteite.

As ’n omvattende verklarende woordeboek is die Woordeboek van die Afrikaanse Taal reeds sedert sy ontstaan in 1926 gemoeid met die optekening van Afrikaans in sy ruimste sin deurdat sowel gesproke as geskrewe materiaal uit al die variëteite van Afrikaans opgeteken is. Die WAT het oor die jare ook besondere moeite gedoen om soveel as moontlik voorbeelde van streektaal vir sy databasis te versamel ten einde ’n omvattender en meer verteenwoordigende dekking daaraan in die WAT te kan gee. Die WAT is dus ideaal geposisioneer om uiting te gee aan die gelykwaardigheid van alle variëteite van Afrikaans en daarom was dit vir die WAT “’n plesier om as gasheer vir hierdie historiese byeenkoms te kon optree en om die rol as woordeskatoptekenaars in die projek te kan speel”, aldus die WAT se hoofredakteur en uitvoerende direkteur, dr. Phillip Louw.

Dr. Gerda Odendaal, mederedakteur van die WAT, wat die woordeboek op ProVARIA se stuurkomitee verteenwoordig, het reeds ’n belangrike bydrae tot die projek gelewer deur ’n opname van bestaande navorsing oor die variëteite van Afrikaans te maak. Hierdie bibliografie dien as wegspringplek vir verdere navorsing oor Afrikaanse variëteite wat tydens die projek onderneem sal word. Die WAT is ook betrokke by die samestelling van ’n lys met woorde en uitdrukkings uit die onderskeie variëteite van Afrikaans. Hiervoor word daar uit die ryk taalnavorsingskat geput wat reeds in die WAT gereflekteer word, en dit verskaf ’n stewige basis waarop daar tydens die projek voortgebou kan word.

Kyk gerus die onderstaande gesprek op LitNet vir meer inligting rakende ProVARIA:

Kundige persone wat graag by ProVARIA se aktiwiteite betrokke wil raak of meer te wete wil kom, kan ’n e-pos aan Roné Wierenga stuur: rone@afrikaansetaalraad.co.za.

ProVARIA-stigterslede (v.l.n.r.):
Marius Swart (US en Taalkommissie), Annelise de Vries (Akademia en Taalkommissie), Nina Brink (NWU), Elvis Saal (Unisa), Phillip Louw (WAT), Wannie Carstens (NWU en ATR), Ian Kotzé (UFH), Frederick Botha (SPU), Frank Hendricks (UWK), Alison Stander (UFS), Carla Ellis (UFS), Anél Otto (NMU), Ansie Maritz (UP), Roné Wierenga (ATR en VivA), Earl-Ray Basson (CPUT), Ria Olivier (ATR), Monique Rabé (NWU en Taalkommissie), Gerda Odendaal (WAT), Suléne Pilon (UP en Taalkommissie), Conrad Steenkamp.
Teenwoordiges nie op foto: Marlie Coetzee (VivA), Hendrik Theys (CPUT en SBA)

Deel op Sosiale Media