• 16/10/2019

Laurika Rauch word WAT-beskermvrou

Laurika Rauch word op Woensdag 16 Oktober, Internasionale Woordeboekdag, die nuwe beskermvrou van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal se Borg ’n Woord-projek.

Die doel van Borg ’n Woord is om mense bewus te maak van die waarde van woorde en die rykdom, kleurrykheid en verskeidenheid van die Afrikaanse taal. Dit laat mense dink oor wat hul gunstelingwoorde is en watter woorde net eenvoudig vir hulle mooi is. 

Laurika moedig Afrikaanssprekendes soos volg aan om deel te neem aan Borg ’n Woord: Woorde is kosbaar. Borg of koop ’n woord wat vir jou van besondere waarde is en help so om die toekoms van ons lieflike taal te verseker. Laat die woord jou lei!

Borg ’n Woord is gebore uit die nood wat ontstaan het toe die staat die subsidie aan die woordeboek drasties ingekort het. Dit is een van die suksesvolle fondswerwingsinisiatiewe van die WAT wat in 2010 begin het met David Kramer as beskermheer. Kramer is opgevolg deur Charlene Truter (Lackay), Marita van der Vyver, Nataniël, Dave Pepler, Deon Meyer, Karen Zoid, Hemelbesem en Tracey Lange.

Een prys van R25 000 geborg deur Sanlam kan gewen word. Woorde kan teen R100 per woord geborg word en elke deelnemer ontvang ’n sertifikaat met sy of haar naam en die woord of woorde wat hy of sy borg. Jy kan ook ’n woord  vir R5 000 koop en niemand anders mag dan daardie woord borg of koop nie. Dit is ook ’n gewilde geskenk aan geliefdes, familielede en vriende.

As jy R5 000 skenk vir ’n woord, ontvang jy ’n 18A-belastingsertifikaat. Gaan na Borg ’n Woord as jy wil deelneem. Almal wat woorde borg of koop, kwalifiseer outomaties vir die prystrekking van R25 000.

Deelnemers wat woorde borg, kry ook ses maande gratis toegang tot die Aanlyn WAT en indien jy ’n woord koop, kry jy gratis toegang vir vyf jaar.

16 Oktober is die verjaarsdag van Noah Webster en Woordeboekdag word internasionaal ter ere van hierdie beroemde Amerikaanse woordeboekmaker gevier. Webster is in 1758 gebore en was ’n briljante student wat op 15-jarige ouderdom aan die Yale Universiteit begin studeer het. Later word hy die samesteller van die eerste Amerikaanse woordeboek en hy word dus beskou as die vader van die Amerikaanse leksikografie.  

Volgens dr. Willem Botha, uitvoerende direkteur en hoofredakteur van die WAT, moet ons op Woordeboekdag onsself afvra of ons woordeboeke nog relevant is. Mense raak gefrustreerd omdat hulle verouderde woordeboeke gebruik wat nie rekenskap gee van die duisende nuwe woorde  en nuwe betekenisse van ou woorde nie.

 

Deel op Sosiale Media